Tuin van Digters 2016 - Breytebach Sentrum

 

KUNSUITSTALLINGS:


FILMVERSE 2

Moontlik gemaak deur die ATKV

Vir die ATKV: Nita Cronjé

Artistieke regisseur: Diek Grobler

Die ATKV se suksesvolle digkuns-animasieprojek, Filmverse, word voortgesit met die première van Filmverse 2. 'n Nuwe keuse van twaalf gedigte word aangepak vir hierdie opwindende visuele bloemlesing. Gedigte van ons ouer digters word ingesluit (waaronder Elisabeth Eybers, DJ Opperman, Boerneef en TT Cloete) asook die werk van jonger digters (Nathan Trantraal, Andries Bezuidenhout en Ronelda Kamfer). Die werk van Joan Hambidge, Johann de Lange, Jeanne Goosen, Marlise Joubert en Heilna du Plooy is ook deel van Filmverse 2 – ’n veeltalige projek wat Afrikaans, Engels, Zoeloe en Sesotho insluit.

16 – 18 September | 9:00 – 17:00 | Konferensielokaal (onder)


16 SEPTEMBER - PAMPOENDAG

Nanette Ranger se beeld, wat geskep is met Breyten Breytenbach se gedig 16 September as inspirasie, word by die Tuin van Digters vir die eerste keer in die tuin onthul. En dit natuurlik, vind plaas op 16 September.

Opening: 16 September, 17:00 (as deel van Boekmerke-uitstalling se opening) | Digterstuin


BOEKMERKE

(Ex libris)

’n Boek (s), -e, ingebonde, bedrukte of beskrewe blaaie papier

’n Merk, (s) –e, teken, stempel, onderskeidingteken; maaksel

(volgens die Verklarende Afrikaanse Woordeboek – Kritzinger, Labuschagne en Pienaar)

’n Groepuitstalling met o.a. Judy Woodborne, Louis Jansen van Vuuren, Anton Brink, Strijdom van der Merwe, Ceramic Matters, Hardy Botha, Ann Marais, Clare Menck, Frans Mülder, Antoinette Cloete Nel, Sharlé Matthews, Carina du Randt, Willie Bester, Rae Goosen, Evette Weyers, Cathy Brennon, Ruhan Janse van Vuuren, Vusi Beauchamp, Kobus le Grange, Frank van Reenen, Bastiaan van Stenis, Jean Dreyer, Kirby van der Merwe, Willem Pretorius, Annette Snyckers, Willie Steyn, Hennie Meyer, Theo Paul Vorster, Victoria du Toit, Mzimasi Funo, Fanie Marais, Marinda du Toit en Elsibe McGuffog

Met hierdie uitstalling vier die Breytenbach Galery alle vorme van boeke – romans, digbundels, fiksie, nie-fiksie… alle merke gemaak op beskrewe papier.

16 September – 20 Oktober | 9:00 – 17:00 | Breytenbach Galery | Opening: 16 September, 17:00


BLOMBALLONNE

Konsep: Strijdom van der Merwe

Ons tuin staan wit in die blom met ballongedigte en ons nooi jou uit om vir jou een te pluk en vir iemand te gee wat ’n gedig en ’n blom ewe veel sal waardeer.

16 - 18 September, 9:00 – 17:00 | Digterstuin | R10 per blom



VRYDAG, 16 SEPTEMBER:


TAKE YOUR TIME: THE POETRY OF ADOLESCENCE

Aangebied deur Chris Mann

Op sy charismatiese en humoristiese wyse, reik Chris Mann uit na Graad 10 tot 12-leerders met hierdie aanbieding waarin hy jongmense leer oor die belang van die digkuns, die invloed daarvan op die ontwikkeling van die brein, geheue en kreatiwiteit. Hierdie kursus word aangebied by plaaslike Wellingtonse skole. Meer inligting by Olivia Ockhuis: Olivia@breytenbachsentrum.co.za

Vanaf 9:00


SIMPOSIUM

(Aangebied in samewerking met die US Departement Afrikaans en Nederlands)


DIE MEDEWETE VAN DIE POËSIEVERTALER

Met: Alfred Schaffer en Karen Press; Andries Visagie (gespreksleier)

Die digters en vertalers Alfred Schaffer en Karen Press praat oor hul vertalings na Nederlands en Engels van Antjie Krog se Afrikaanse digbundel Mede-wete. Die gesprek verken die besondere uitdagings, probleme en ook vreugdes wat die vertalers te beurt geval het in hul vertalings van Krog se dikwels komplekse gedigte.

9:00 |60 min. | Woordtent


ONS KOMVANDAAN

Regie: Christine Truter

Met: Gaireyah Fredericks, Wayne Galant, Charnelle Fortuin, Josua Meyer en Curtly Titus

Meesleurend, opruiend, oproerig, versoenend, onthutsend en omhelsend. Die Breytenbach Sentrum se drama-groep, Kaleidoskoop, bied ’n ondersoekende en ontroerende blik op die werk van bruin digters oor ses dekades heen – van PJ Philander en Adam Small tot Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Jitsvinger.

10:15 | 30 min. | Akkoordtent


“ONBEGRYPLIKE POËSIE IS ALTYD BETER AS MAKLIKE POËSIE” (NEDERLANDSE DIGTER ILJA LEONARD PFEIJFER)

Met: Louise Viljoen, Bibi Slippers, Nèlleke de Jager; Andries Visagie (gespreksleier)

Hierdie gesprek gaan oor die onderskeie voordele van “slow poetry” wat weerstand bied teen vinnige verbruik en “vinnige kuns” wat onmiddellik tot die hoorder of leser spreek. Vinnige kuns “spat soos ’n haelpatroon deur die maag” soos wat Loftus Marais dit beskryf het in sy gedig “’n Pleidooi vir vinnige kuns”, terwyl “slow poetry” van die leser verwag om tydsaam en met aandagtigheid te lees.  Louise Viljoen praat oor “slow poetry”, Bibi Slippers vertel wat sy verstaan onder “vinnige kuns” en die uitgewer Nèlleke de Jager verduidelik wat die uitgewer se posisie is in hierdie gesprek.

11:00 | 90 min. | Woordtent


AKWASI & JITSVINGER

Akwasi, oorspronklik van Ghana, is ’n suksesvolle Nederlandse kunstenaar, liedjieskrywer, akteur en regisseur – en meestal bekend as die voorman van die Nederlandse rymkletsgroep, Zwart Licht. Kom luister hoe hy sy Nederlandse rymkletse laat opklink. Jitsvinger is op sy  beurt ’n veelsydige kunstenaar met hope kreatiwiteit en  is 'n gevestigde skrywer, komponis en musikant wat die verhoog gereeld deel met plaaslike legendes soos Antjie Krog, David Kramer, Burni Aman en Pops Mohamed.

12:45 | 30 min. | Akkoordtent


“I FOUND MYSELF IN A SITUATION” – POËSIE IN ROERIGE TYE

Met: Ari Sitas, Rustum Kozain, Andries Bezuidenhout, Diana Ferrus, Wamuwi Mbao; Alfred Schaffer (gespreksleier)

Wopko Jensma se gedig “Spanner in the what? Works” (1977) dien as wegspringpunt vir hierdie gesprek oor die plek van poësie in die Suid-Afrika van vandag. Het die digkuns nog enigsins ’n rol te speel in ons sosiopolitieke omstandighede? Hoe kan of moet so ’n poësie lyk? Wie mag of moet of kan dit skryf?

13:30 | 90 min. | Woordtent


MARTIJN NELEN

Een van die bekendste en innoverendste Vlaamse digters en bekvegters sal die gehoor met sy gedigte beïndruk – so uit die mou gepluk en op die voete bedink.

15:00 | 30 min. | Akkoordtent


“AG, ONS ALMAL IS TOG SO LIEF VIR DIE NATUUR …”

Met: Marlene van Niekerk, Susan Smith, Johann Lodewyk Marais, Martjie Bosman en Chris Mann; Willem Anker (Gespreksleier)

In hierdie sessie word daar aan die hand van Ecology without Nature  (Timothy Morton) gesels oor vrae soos die volgende:  Watter opvattings van die begrip “natuur” vind neerslag in (ook ekologies-bewuste) “natuurpoësie”?  Watter (on/kritiese) uitgangspunte oor die verhouding tusssen mens en natuur kan onderliggend wees in gedigte oor omgewing, atmosfeer, landskap, voëls, bome, diere?

15:30 | 90 min. | Woordtent


KOM ONS PRAAT ANDERS SAAM MET MEKAAR

"...it is proposed that a form of free dialogue may well be one of the most effective ways of investigating the crisis which faces society, and indeed the whole of human nature and consciousness today. Moreover, it may turn out that such a form of free exchange of ideas and information is of fundamental relevance for transforming culture and freeing it of destructive misinformation, so that creativity can be liberated." David Bohm

Met: o.a. Alfred Schaffer, Danie Marais, Susan Smith, Martjie Bosman, Johann Lodewyk Marais, Daniel Hugo, Andries Bezuidenhout, Bernard Odendaal, Gilbert Gibson, Loit Sôls, Jitsvinger, die Mengelmoesdigters, Louis Esterhuizen, Sisca Julius, Shirmoney Rhode, Hennie Nortjé, Bibi Slippers, Rustum Kozain, Ronel de Goede en Diana Ferrus; Desmond Painter (Gespreksfasiliteerder)

’n Groep nugter digters praat en swyg in ’n byeenkoms geskoei op die model van die Bohm-dialoog: geen agenda, geen debat, slegs mededelings, vrae, betuigings, opmerkings in enige vorm of toonaard.

19:00 | 90 min. | Woordtent


TRIBAL ECHO

Met: Sandy Gertse, Barry Daniel, Earl Witbooi, Karin Hess en Frazer Barry

Dié gewilde musiekgroep is terug by die fees ná verlede jaar se stofopskop. Maak reg vir ’n kuier saam met die manne en dames wat weet hoe Klip Kop Rock werk!

21:00 | 70 min. | Akkoordtent



SATERDAG, 17 SEPTEMBER:


IN DIE OMTES VAN DIE HART

’n US Woordfees-produksie

Met: Jana Cilliers

Regie, samestelling en verwerking: Juanita Swanepoel

’n Samestelling uit die verhale, vertellings en poësie van Petra Müller – ’n skrywer wat met soveel oorgawe haar herkoms en geborgenheid in eie bodem met ons deel. Met haar poëtiese inslag het sy die vermoë om aan die eenvoudigste verhaal onverwagse nuanses te verleen. Madeleine van Biljon noem haar “’n pêrel in onse skrywerskroon”.

9:00 | 60 min. | Bôrdienghuis Teater


POËSIE-WERKSWINKEL

Met: Jitsvinger, Martijn Nelen en Akwazi

Hierdie werkswinkel bestaan uit ’n basiese inleiding tot die rymklets, wat goeie en slegte verse van mekaar onderskei, die tips en truuks van hoe om jou gedigte voor ’n gehoor op te voer. Hierdie werkswinkel word by plaaslike skole aangebied, maar is ook oop vir die publiek. Meer inligting: Olivia Ockhuis by 021-8732786.

10:00 | 150 min.


IZAK DE VILLIERS – PREDIKANT EN TROEBADOER

Met: Joan Hambidge, Gilbert Gibson, Louis de Villiers en Lizette Rabe (gespreksleier)

Izak Louis de Villiers sou vanjaar sy tagtigste verjaardag gevier het. Hy was jare lank predikant van 1963 tot 1983 in onder meer Albertinia, Bonnievale en Constantia. In 1983 verruil hy die kansel vir die joernalistiek en word hy as redakteur van die vrouetydskrif Sarie aangestel. In 1991 word hy die hoofredakteur van die Sondagkoerant, Rapport, en tree in 1997 uit. Hy debuteer in 1972 met die digbundel Leitourgos, en hy skryf ook talle godsdienstige boeke. Tydens hierdie sessie bring ons hulde aan Izak de Villiers - as digter en mens.

10:30 |60 min. | Woordtent


IS DIE KANON IN SY KANON IN?

Aangebied deur PEN Afrikaans

Met: Louise Viljoen, Ronel Foster, Marga Stoffer, Alfred Schaffer; Danie Marais (gespreksleier)

Wie is dapper genoeg om die volgende Groot Kanoniseerder te wees? Waar is die volgende Groot Verseboek of Poskaarte? En is dit nodig?

12:00 | 60 min. | Woordtent


REFENTSE MORAKE

As hy nie gesing het nie, sou hy graag die president van Suid-Afrika wou wees.  En  as  dit  enigsins  ’n  aanduiding  is  van  hoe  ver  sy  ambisie  strek,  wag daar beslis gróót dinge op hierdie jongman. Sy YouTube-videos van Afrikaanse  treffers  soos  Lisa  se  Klavier,  De  la  Rey en  Ou  Ryperd  is  reeds duisende kere gekyk en op sosiale media gedeel.

13:15 | 60 min. | Akkoordtent


DIGTERS EN HUL MENTOR

Met: Joan Hambidge, Juanita Louw en Hendrik Botha

Joan Hambidge was die mentor vir Juanita Louw, asook Hendrik Botha, wat onderskeidelik met die bundels In die grot van die sibille en Atropos debuteer. Hambidge gesels met hierdie digters oor hul verse en die verhouding tussen jong digters en hul mentor.

14:30 | 60 min. | Woordtent


WOORDE OP AKKOORDE: DIE KAAL TAAL KABAAL

Met: Frazer Barry, Churchil Naudé, Loit Sôls, Deniel Barry en Nolan Russell

Wat is ’n taal sonder sy klank?  Wat is ’n klank sonder definisie?  Hoe beïnvloed die natuurlike omgewing jou gebruik van woorde en jou ervaring van klank? Dié produksie is ’n viering van die ontwikkeling van woordkuns, musiek en hoe die mens se kreatiewe aanslag daarop ons bewustelik en soms onbewustelik beïnvloed. Vraagstukke word ernstig maar speels hanteer en die gehoor word op ’n magiese reis van die antieke oorlogskrete, kragwoorde, die gehuil van ’n baba tot en met hoe jy jouself in jou eie taal of klank uitdruk, geneem.

15:45 |45 min. | Akkoordtent


DIGITALE DIGKUNS

Met: Bernard Odendaal, Diek Grobler, Yves T'Sjoen en Franci Greyling (gespreksleier); voorlesings deur Danie Marais, Alfred Schaffer, Zandra Bezuidenhout en Hennie Nortjé

Byderhand is 'n projek van die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) waarin digitale digkuns en die natuur op vindingryke manier bymekaar uitkom, deurdat jy op jou slimfoon, via 'n strepieskode in die natuur aangebring, 'n gedig kan aflaai wat met die tuingegewe te doen het. Hierdie projek is met groot sukses in die NWU se Botaniese Tuin aangebied tydens die Aardklop-fees in 2015. Enkele splinternuwe tuinverse is vir die Tuin van Digters geskryf en digitaal bewerk. Filmverse is op sy beurt 'n projek waarin digters se verse tot animasiefilms verwerk word. Betrokkenes by beide projekte kom gesels oor wat digitale digkuns behels en hoe ons vergelyk met wat in Europa gebeur. Van die digters wie se werke opgeneem is vir die Byderhand-projek, kom lees hul werk voor.

Besoek Byderhand se Digterstuin blad en laai die QR-leser op jou slimfoon hier af om die Byderhand kodes in die tuin te kan benut.

16:45 | 60 min. | Woordtent


R.A.P – RYMKLETS AANGEDREWE POËSIE

Regie & produksie: Hakkiesdraad Hartman

Met: Hakkiesdraad Hartman, Stoic Shadow, Ben 10, Rashid Kamalie, Norman Smiley en DJ Jeff-FX 

Dié produksie beoog om ’n beter blik te gee op rymklets as digvorm. Rymklets is die Afrikaanse weergawe van Rap of Hip-Hop, en begin in 1989 toe Prophets of the City hulle eerste album, Our World, uitgereik het. Een van die liedjies op die album, Dallah Flet, word beskou as die eerste uitgereikde rymklets-liedjie in Suid-Afrika. In hierdie sessie word verwys na kunstenaars wat die grondwerk gedoen het, om sodoende die groei van Rymklets te illustreer van toeka af tot nou. Die groep rymkletsers betrek die gehoor om hul verskillende style te demonstreer – verwag ’n mengsel van rymklets, humor, digkuns, freestyling en deejaying.

18:00 | 60 min. | Akkoordtent


INZYNC DIGTERSPAARTIE & OOP MIKROFOON

Samestellers: Adrian “Diff” van Wyk en Pieter Odendaal

Met: o.a. Martijn Nelen (België), Akwazi (Nederland), Jitsvinger, INKredible Digters, CUPFUSS DJ's die Mengelmoesdigters, Sisca Julius, Bibi Slippers en andere.

Tydens hierdie sessie word die digkuns behoorlik gevier – deur  voorlesings, optredes deur Akwazi en Martijn Nelen – al die pad van die Lae Lande, asook musiek. Soos die aand verloop word die musiek al lekkerder en die ritmes aansteekliker. Dis ook ’n oop mikrofoon-aand en ons nooi digters uit om hul werk voor te lees.  Met Adrian “Diff” van Wyk as die seremoniemeester en die DJ’s, kan jy jou regmaak vir ’n gedigte-ervaring soos min.

19:15 | 90 min. | Akkoordtent


MR CAT & THE JACKAL TRIO

Met: Gertjie Besselen, Jacques du Plessis en JC Visser

Kom beleef hierdie aweregse multi-instrumentele groep wat met verskillende genre’s – van die tango tot die blues – ’n unieke musiekervaring waarborg, keer op keer.

21:00 | 80 min. | Akkoordtent



SONDAG, 18 SEPTEMBER:


DIE HEEL MOOISTE AFRIKAANSE LIEFDESGEDIGTE

’n Breytenbach Sentrum- & US Woordfees-koproduksie

Programsamestelling en regie: Juanita Swanepoel

Met: Waldi Schultz en Ira Blanckenberg

Fanie Olivier sê oor sy samestellingsbundel, Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte: “Dit was toentertyd I.D. du Plessis wat sy lesers vermaan het dat die liefde ʼn duisend vorme kan aanneem en teen hierdie agtergrond probeer ʼn mens ʼn verteenwoordigende keuse doen van iets wat moontlik die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte genoem kan word.” Met die saamstel van ʼn program wat weer verteenwoordigend moet wees van Fanie Olivier se keuse, raak dit nog moeiliker om reg te laat geskied aan die magdom mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Miskien, as ons sommige van die verse in gesprek met mekaar sit kan ons tog die oeroue verhaal van verlange, vrese, vreugde, begeerte, hartstog, skeiding, verlies, herinnering en nogmaals verlange opnuut laat leef en bevestig.

9:00 | 50 min. | Bôrdienghuis Teater


PJ PHILANDER – ’N ONMISBARE STEM

Met: Steward van Wyk, Heindrich Wyngaard en Daniel Hugo (gespreksleier)

“Die jaar 1955 was vir Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkunde ewe belangrik. Dit was die jaar van die Freedom Charter en die verskyning van ’n merkwaardige digter: P.J. Philander.” Só merk Daniel Hugo per geleentheid op oor P.J. Philander, een van Suid-Afrika se belangrikste digters, wat vanjaar sy 95-ste verjaardag sou vier.  In hierdie program word hulde gebring aan hierdie onmisbare stem uit die Overberg.

10:00 | 60 min. | Woordtent


SIXTY LOVE

Toonsettings: Olga Leonard en Babette Viljoen

Musikale regie: Lize Beekman

Met: Olga Leonard en Babette Viljoen

Joan Hambidge se sestigste word met hierdie produksie gevier. Ons neem ’n blitsreis deur twintig bundels en meer as seshonderd gedigte. Die reis bevat “geordende onthoue” van Hambidge se ouers en familieskap, en staan stil by die liefde, eensaamheid, digterskap, metafisika, reise en die dood. Haar digkuns tree in gesprek met onder ander digters soos Johann de Lange en TT Cloete.

11:15 | 60 min. | Akkoordtent


BIETJIE OOS, BIETJIE WES

Die Kaapse Maleiers wie se voorvaders almal in die sewentiende en agtiende eeu na Kaapstad ingeskip is vanaf onder meer Indonesië en Java, het hulle eie musiek ontwikkel. Iets tussen Oos en Wes.  Die Moslemliedere is verhollands en vandag word die musiek verdeel in Moppies, tradisionele volksmusiek, die Hollandse-liedjies en Ghoema-musiek.

12:30 | 30 min. | Akkoordtent


GEDIGTE HUL GEMENE GROND

Met: Johann de Lange en Joan Hambidge

Twee digters, twee vriende, albei belangrike stemme in die Afrikaanse digkuns. Joan Hambidge gesels oor haar nuutse bundel, Indeks, terwyl Johann de Lange enkele verse voorlees uit sy onlangse bundel, ’n Hunkering se grein.

13:15 | 60 min. | Woordtent


LAURIE LEVINE

Ná die verskyning van haar merkwaardige debuut, Unspoken, in 2007, het Laurie Levine vir haar ’n loopbaan as sanger-liedjieskrywer oopgekerf. Levine se gawe lê daarin dat sy die vermoë het om diepgewortelde folk-musiek te vermeng met uiteenlopende invloede – als met haar kitaar en stem.

14:30 | 60 min. | Akkoordtent


MET JOU AAN MY SY

Met: Leslie Javan

’n Program van plattelandse hartsmusiek, wat Leslie Javan oor die laaste twee dekades geskryf het. Dit vertel die storie van ’n liedjieskrywer wat die stories van die plekke en die mense opgeteken het in sy soeke na homself op sy reise deur Suid-Afrika en ander lande.

15:45 | 60 min. | Akkoordtent


OOPMOND

Met: Henry Cloete, Andries van Pretoria, Pierre Shamley, Mavis Vermaak (digters); Die Kaalkopwaarheid en The Faradays (musikante) en Neels Venter (beeldende kunstenaar)

Oopmond is ’n woord-en-musiek aangeleentheid soos min. Die bestanddele vir dié ongewone stuk teater is eenvoudig: twee spanne digters en 'n paar musikante, asook ’n maltrap seremonie/skeidsregter. En, natuurlik, ’n pretbeluste, geïnspireerde gehoor. Die digters en musikante ding as groepe mee teen mekaar. Die digters kry ’n tema (bepaal deur die gehoor) en het tien minute om ’n nuwe, impromptu-gedig te skryf – wat dan direk daarna deur ’n span musikante getoonset word. Die uiteinde? Twee splinternuwe liedjies en ’n handvol nuwe gedigte. Net so, daar voor jou oë en om jou ore. Tussendeur is daar warm-onder-die-kraag-toordery met woorde en oorspronklike musiek.

17:00 | 90 min. | Akkoordtent


MUSIEK & WOORDE

Samestelling: Ilse Schürmann

Met: Lynelle Kenned (sang), Hannes van Wyk (verteller) en Elna van der Merwe (klavier)

Elizabeth Eybers het geskryf: “Musiek, subtiele, liggaamlose taal…” In Musiek & woorde sal daar musiek gemaak word oor woorde; en sal woorde die taal van musiek beskryf.

18:00 | 60 min. | Goodnow-saal



ALGEMEEN


BRING DIE KINDERS SAAM!

Ons het vanjaar vir die eerste keer ’n oppasdiens vir die kleinspan – waar hulle op allerlei kreatiewe maniere besig gehou sal word – speel-speel met verskeie vorme van die digkuns: van voorlesings, hoe om gedigte uit woorde te bou tot versierings maak en nog vele meer.


BORGE

ATKV, Die Dagbreek Trust, Het Jan Marais Nationale Fonds, Koninkrijk van de Nederlande, #cocreatSA, LW Hiemstra Trust, Naspers, NLC, Rupert-musiekstigting, Van Ewijck-stigting, die Vlaamse Regering en die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuursake


#cocreateSA is a platform for South African and Dutch counterparts to exchange ideas and innovations for a sustainable future. It stimulates collaboration between South Africa and the Netherlands based on the belief that if we work together, we can make a difference and co-create solutions for local challenges. #cocreateSA is an initiative of the Kingdom of the Netherlands in South Africa, capturing the true essence of modern foreign diplomacy: building relationships, putting the demand at the core of our discussions and focusing on long-term commitments and partnerships. Join the conversation on Twitter, Facebook and YouTube.


VENNOTE

InZync, NB-Uitgewers, Open Book Festival, PEN Afrikaans, US Departement Afrikaans & Nederlands, US Woordfees, Wellington Toerisme


WELLINGTON TOERISME

Skakel met die Wellington Toerisme-kantoor by wellingtoninfo@dlta.co.za om jou te help met jou verblyfbesprekings en ander inligting oor ons dorp en omgewing te bekom.


KAARTJIEPRYSE

Naweekpakket: R400

Vrydag: R150

Saterdag: R200

Sondag: R150

Studente-afslag: R50 / dag (met bewys van geldige studente-kaart)


BESPREKINGS

Jeanne-Mari Gerber: besprekings@breytenbachsentrum.co.za, 021-8732786, 073-4351022, h/v Burger- en Malherbe-straat, Wellington, 7655.


HELP ONS OM ANDER TE HELP

Die Breytenbach Sentrum wil graag ’n plek wees waar almal kan deel word en deelneem, en waar ons vir mekaar die wonder van die kunste, talente en vaardighede kan aangee. Word deel van ons MySchool MyVillage MyPlanet-projek. Dit beteken dat jy ’n kaart kan kry waarmee elke keer as jy inkopies by Woolworths doen, ’n persentasie van die bedrag waarvoor jy gekoop het aan ons betaal word, sonder dat dit jou iets kos. Ons is daagliks besig om mense op te lei in die kunste, om sodoende werk te kan bekom, en om jongmense hoop vir die toekoms te gee. Jy kan ’n hengse verskil maak!

Kliek hier of e-pos Theo Kemp by  theokemp@breytenbachsentrum.co.za


Volg ons op Facebook, Twitter en hou ons webwerf, www.breytenbachsentrum.co.za, dop vir die nuutste inligting oor die Tuin van Digters.


Die program is onderhewig aan veranderinge wat hier op ons webwerf aangebring sal word.

tuin van digters 2016 program

FILMVERSE LOKPRENT:

‘n Voorsmakie van waarna jy kan uitsien tydens Filmverse 2: