
Boekbekendstelling: Die Wêreld van Charlie Oeng – Etienne van Heerden
Die Breytenbachsentrum, in samewerking met The Book Traders, nooi belangstellendes uit na die bekendstelling van Etienne van Heerden se jongste roman.
Etienne Bloemhof van NB Uitgewers sal om 19:00 op Woensdag 11 Oktober op die bank langs Etienne van Heerden wees en die vrae stel, sodat ons meer oor die storie en die storiemaker kan leer.
Tian Kilian het sy ouers op die alleraakligste manier verloor. Hulle is voor sy oë vermoor, op die aand van die vuurwerke op Sloot-plaas. Sommer met die intrapslag lees jy dit al. Daar is dus geen misverstand oor die misdaad nie, maar vir die volgende 500+ bladsye loop jy saam met die volwasse Tian en probeer uitvind hoe? En hoekom? En wat daartoe gelei het? Die skrywer het selfs na Amsterdam (en die Klein-Karoo) gereis om die Chinese werklikheid daar te gaan ondersoek.
“Die pyn van ons voorouers en ouers bly ons altyd by”, het Van Heerden in ’n onderhoud gesê, en hierdie uitdagende en ambisieuse roman is ’n duidelike bewys daarvan.
Jou glasie wyn word deur Simonsvlei Kelders geborg.