
Valentynsaand saam met Koos van der Merwe
Wil jy ’n heerlike Valentynsaand met pragtige nostalgiese liefdesmusiek en heerlike wyn bywoon?
Sorg dan dat jy nie Koos van der Merwe se Valentynskonsert op Vrydag 15 Februarie in die romantiese Bôrdienghuis-teater by die Breytenbach-sentrum in Wellington misloop nie.
“Een aand onder die klank van die wysies van omhelsing doen dinge met jou binnekant. Koos se nuwe vertoning, ‘Ek hou van jou’ met ou warm gunstelinge en splinternuwe musiek van die hart en die vel maak die liefde wakker.”
Die konsert begin 15 Februarie om 20:00 in Die Bôrdienghuis op die hoek van Burger-en Malherbestraat. Wyn en pizza’s kan reeds van 18:00 gekoop word.
Kaartjies kos R140 per persoon en kan bespreek word by [email protected] of 021 873 2786.