Plek van
uitdagende skepping
uitdagende skepping
Die Breytenbach Sentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre kultuursentrum vir opleiding in, en omgang met, beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns. Kom deel in gesprekke, idees, bekendstellings, opleiding en werkswinkels en beleef kuns, musiek, drama en die mense wat dit skep, waardeer en beleef.
Die volgende woorde deur die digter, skrywer en kunstenaar Breyten Breytenbach, gelewer tydens die Breytenbach Sentrum se opening op 26 Februarie 2007, is die kompas van al die werksaamhede van die Sentrum:
‘Hier word plegtig afgespreek dat dit gaan om die sluiting van vennootskappe op absoluut deursigtige en gelyke grond – waar iedereen haar of sy bydrae sal kan lewer, uit hoofde van vaardigheid of vermoë of potensiaal. Maar veral gaan dit om uitdagende skepping, ’n ware transformasieproses. Want hierdie is nie ’n plek van opgee of afgee of weggee nie; dit gaan oor aangee. Nie om verdeel of opdeel nie, maar om deelname en deelwórd.’







Breytenbach Sentrum: Gister, Vandag, Môre
Die digter en kunstenaar Breyten Breytenbach en dr. Janine Maske, vorige voorsitter van die Trust van die Breytenbach Sentrum in Wellington, gesels in hierdie video-opname oor die geskiedenis en toekomsvisie van die Sentrum sowel as oor die wyse waarop Suid-Afrikaners en buitelanders by hierdie unieke plek betrokke kan raak.
Die gerestoureerde gebou wat vandag die Breytenbach Sentrum is, was die gesinshuis waar Breytenbach saam met sy ouers en jongste broer en suster gewoon het. Hy was ook hoofseun van die Hugenote Hoërskool in Wellington.
kan jy help?

DIE GREVILLEAS STEUNFONDS
Die Breytenbach Sentrum samel tans broodnodige fondse in om die voortbestaan van die Sentrum te verseker. Daarvoor is die Grevilleas Steunfonds begin. Die Breytenbach Sentrum is ‘n kuns-en kultuursentrum waar alle lede van die gemeenskap tuis kan wees en aan verskillende opleidingsprogramme en ander interaktiewe projekte kan deelneem. Die Sentrum (en sy terrein, geboue en personeel) maak verskeie gemeenskapsprojekte – van naaldwerk-, rekenaar- en dagsorgopleiding tot dramaklasse – moontlik.
Enige eenmalige kontantbydrae van enige bedrag (’n maandelikse aftrekorder sal ook waardeer word) kan inbetaal word by: Breytenbach Kultuursentrum, Nedbank, 1029022739, Wellington (198765), verwysing: Steunfonds
poësie en woorde by die breytenbach sentrum
Die pragtige digterstuin en geboue by die Breytenbach Sentrum in Wellington is vol gedigte en inspirasiewoorde. Teen mure, op teëls en vensterruite, in bome, op mosaïek by tuinbankies, langs die rustige fontein en elders in die die skeppende omgewing. Kom geniet die lafenis tussen honderde boeke in die boekwinkel, uitdagende kunswerke in die galery, teaterproduksies en energieke gemeenskapsprojekte.