tuin van digters

Tuin van Digters
Ondersteun deur Dagbreek Trust 
Tuin van Digters is ’n digtersfees wat in 2012 vir die eerste keer aangebied is. Dit vind gewoonlik die naweek naby aan 16 September, die verjaardag van Breyten Breytenbach, plaas. Dit is geskep om jaarliks besoekers na ons digterstuin te lok, maar het intussen gegroei tot ’n belangrike platform vir Suid-Afrikaanse digters. In die intieme ruimtes van die sentrum skep ons geleenthede vir digters en liefhebbers van die digkuns om mekaar te ontmoet.

Ons wil met hierdie fees bewys dat die digkuns nie ’n verhewe en eksklusiewe kunssoort is nie, maar deur almal geniet kan word. Die fees word aangevul deur liriekgedrewe musiek en Afrikaanse rymklets. Die Ingrid Jonker-prys vir ‘n Afrikaanse debuutdigbundel, is in 2017 vir die eerste keer by die Tuin van Digters toegeken. Die wenner is Hilda Smits met Die bome reusagtig soos ons was. Die Tuin van Digters vind in 2018 op 14 en 15 September plaas. Besonderhede sal op ons webwerf en Facebook-blad verskyn.

2017 fees: Tuin van Digters sê dankie

Dankie aan al die regte egte digters, voornemende digters, hangkas-digters, nuwe digters, pryswenners, gespreksleiers, kunsskeppers, programaanbieders, ou koppe, jong koppe, deelnemers, musiekmakers, kopoopskoppers, ondersteuners, besoekers, kosmakers, keelnatmakers, kuiergatte, pretmakers, werkendes, ernstiges en spelendes. Julle het bewustelik en onbewustelik as ’n saamgesnoerde span mekaar uitgedaag om skeppend te dink, te doen, te wees.

‘n Groot dankie aan die borge wat Afrikaanse digkuns op velerlei wyses geldelik ondersteun en jaar na jaar sorg dat hierdie unieke samekoms kan plaasvind. Spesifiek Dagbreek Trust vir hulle ruim bydrae die afgelope jare en weer in 2017 – ook met ‘n bykomende bedrag vir die Ingrid Jonker-prys. Ook dankie aan Naspers vir sy jaarlikse bydra vir die Tuin van Digters.

Nog dankies aan prof. Ronel Foster, voorsitter van die Ingrid Jonker-pryskomitee, vir die aanbied van die prysoorhandiging by Tuin van Digters 2017, en Simone Jonker, dogter van Ingrid, wie die prys in die afwesigheid van Hilda Smits aan Nicol Stassen van Protea Boeke oorhandig het.

Baie geluk Hilda met jou wenbundel, Die bome reusagtig soos ons was. Die Breytenbach Sentrum het ook ’n beeld van die Paarlse kunstenaar Nanette Ranger aan Hilda gegee. Dit is ’n replika van ’n lewensgrootte beeld wat in die digterstuin by die sentrum staan.

RSG Kuns se Johan van Lill gesels met ’n paar rolspelers oor 2017 se Tuin van Digters. Luister hier:

 

En wat sal ons sonder die verblyfborge doen. Digters van die nag moet slaap ook. Veral na Die dans van die Wasgoedlyn saam met Riku se musieklegendes. Die verblyfborge verdien almal se ondersteuning – die hele jaar lank. Dankie aan Cummings Gastehuis, Le Bac, Bakkies B&B en Lady Loch Guest House.

Le Bac       Lady Loch Country House        Cummings-gastehuis        Bakkies B&B

Hieronder is foto’s van 2017 se Tuin van Digters (Foto’s geneem deur Tessa Louw)