Nuusvrystelling: André Terblanché aangestel as nuwe bestuurder van die Breytenbach Sentrum

André Terblanché is sedert 1 April die nuwe bestuurder van die Breytenbach Sentrum op Wellington. Dié man van vele talente is ewe gemaklik in die kollig as sanger, akteur en stemkunstenaar as agter die skerms as tegniese koördineerder, produksie- of projekbestuurder en geleentheidsorganiseerder. 

Oor die geleentheid om die kultuursentrum se werksaamhede uit te bou, sê hy: “Ek wil bestaande projekte verder versterk in samewerking met die fasiliteerders en vrywilligers wat daarby betrokke is, kwaliteit kreatiewe projekte ontwikkel rondom byvoorbeeld kore en kabaret, en toesien dat die fasiliteite van so ‘n aard is dat geen kreatiewe idee ooit ingeperk hoef wees nie.” 

Hy geniet dit om omgewings te help skep “waarin mense vry is om spontaan te wees, en hulself uit te druk”. 

Sy droom is dat die Breytenbach Sentrum toenemend ‘n plek word “waar mense beweeg word”: hetsy wanneer hulle persoonlik en intiem geraak word deur ‘n ervaring gedurende ‘n aktiwiteit of projek by die Sentrum; wanneer hulle aangemoedig word om vir die eerste keer tussen of voor mense te beweeg; of deur die skep van geleentheid waardeur mense andere kan help ontwikkel om binne verskeie dissiplines van die kunste te beweeg. 

Louis Duvenage, voorsitter van die Breytenbach Sentrum Direksie, sê daar is groot opgewondenheid oor Terblanché se aanstelling, en die impak wat hy sal kan hê op die Sentrum as gemeenskapswye kultuursentrum. Hy reken dis ‘n bonus dat Terblanché reeds ‘n bekende in die kultuurkringe van die Boland is, onder meer deur sy betrokkenheid by die Woordfees, Hugenote Hoërskool op Wellington se musiekblyspele, die Paarl Langtafel, Paarl Rotary-konserte vir bejaardes, gesamentlike sanguitvoerings en ander plaaslike produksies. 

Dié oud-leerling van Paarl Gimnasium se musiekwortels strek diep. Hy het so te sê in sy grootouers se Paarlse musiekwinkel, Musik-Lood, grootgeword – een waarvan hy self tussen 2016 en 2023 die eienaar was. Terblanché is getroud met Stella-Mari, ‘n onderwyseres by Laerskool Paarl Gimnasium. Hulle het twee kinders, Andreas (2) en Stella Maria (4-maande).

Terblanché het dramakunde, en spesifiek fisieke teater, aan die Universiteit Stellenbosch studeer, en in 2012 ook ‘n BA Honneurs in drama- en teaterstudies ontvang, met ‘n fokus op toegepaste teaterkunde. Gedurende sy studentejare het hy ook sang aan die Konservatorium geneem. 

Hy was deel van die ensemble wat in 2023 twee Kanna-toekennings vir David Kramer se “Ver in die Wêreld Kittie” ontvang het. Vanjaar is hy as beste ondersteunende akteur in ‘n musiekblyspel vir ‘n Fleur de Cap-toekenning genomineer vir sy rol in “Kittie”. Daarby het hy pas deelgeneem aan ‘n huldigingskonsert vir Kramer. 

Terblanché het reeds saamgewerk op verskeie kunstefeeste en in talle plaaslike teaters met bekendes in die bedryf soos Joanie Combrinck, Jaco Bouwer, Johann Rademan, Albert Maritz, Hennie van Greunen en Juanita Swanepoel. In 2019 het hy die titelrol in Joe Niemand se “Daniel the Musical” in Israel gespeel, en was Jack in “Jack and the Beanstalk” wat Pedro Kruger in Katar op die planke gebring het. 

Sy CD “André Terblanché: Pop Culture Bekeerdes” is in 2019 by die Breytenbach Sentrum bekend gestel. Dié stemkunstenaar is tans op RSG te hoor as Neelsie in die “Sending van Ver” radiodrama, en sal ook later vanjaar op die kassie in ‘n M-Net-reeks te sien. Hy het voorheen in “Die Bolandse Moorde”-televisiereekse gespeel. 

“In die proses van dramaklasse neem en op die verhoog wees het ek vroeg reeds agtergekom hoe lekker dit is om ‘n produksie se klank en beligting uit te sorteer, die produksieskedules daarvan te doen en die persverklarings daaroor te skryf. Die fasiliteringsaspek van die uitvoerende kunste laat my in die bedryf bly,” vertel dié bedrewe vermaakbedryf-vryskut wat ook vaardig is met geleentheidskoördinering, video- en klankredigering en stelontwerp. “Kunstefasilitering – of dit nou verband hou met opleiding, die onderhoud van ‘n fasiliteit of daarstelling van nuwe projekte – bied daarby ook die geleentheid om direk kreatief te kan wees, deur byvoorbeeld te help skryf aan ‘n teks, op te tree, ‘n stel te bou of oorklankingswerk te doen.” 

Hy was verlede jaar die Woordfees se tegniese bestuurder en in 2023 ‘n beoordelaar van KykNET se Fiësta-toekennings. Oor die afgelope paar jaar kon hy ook van sy vaardighede oordra aan ‘n jonger geslag deur sy betrokkenheid as stelontwerper van musiekblyspele by Hugenote Hoërskool op Wellington, en as mentor-beoordelaar en ook landwye projekbestuurder van Curro Create-projekte. 

Aangesien die bestuurspos by die Sentrum slegs permanent deeltyds is, sal hy steeds ‘n voet in die bedryf as vryskut behou. Hy doen binnekort diens as produksiebestuurder vir Pieter Toerien se “Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat” by The Theatre on the Bay in Kaapstad en die Montecasino Teater in Johannesburg. 

Meer oor die Breytenbach Sentrum:

Die Breytenbach Sentrum word gehuisves in Grevillias, die eertydse woning van die Breytenbach-gesin in Burgerstraat 14, Wellington. Die kultuursentrum huisves ‘n boekwinkel, ‘n kunsgalery, teater en koffiewinkel en ‘n klein konferensieruimte in die Cloete Gemeenskapsgalery. Die Digterstuin langs die gebou gee erkenning aan verskeie Afrikaanse digters, insluitend Breyten Breytenbach. By die ATKV Bôrdienghuis Teater op die terrein word gereelde musiekvertonings, boekbekendstellings, besprekings en dramaklasse aangebied.

Dit het ten doel om die gemeenskap van Wellington en omstreke byeen te bring rondom uiteenlopende, diverse en inklusiewe kulturele aktiwiteite, en mense kans te gee om deur werkswinkels, openbare geleenthede of besprekings hul blootstelling en talente op verwante gebiede te ontwikkel. ‘n Hoogtepunt is die Tuin van Digters-fees, wat jaarliks rondom wyle Breyten Breytenbach se verjaarsdag plaasvind. Dit vind vanjaar op 12 en 13 September 2025 plaas.

Vir meer inligting, besoek www.breytenbachsentrum.co.za, epos info@breytenbachsentrum of andre@breytenbachsentrum.co.za, of volg die Breytenbachsentrum op Facebook en Instagram.

Slegs vir media-navrae:

André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum –  +27 76 147 8300 of andre@breytenbachsentrum.co.za

Foto: André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum. Foto: Engela Duvenage