‘n Brief om afgelewer te word in die Tuin

Erns Grundling lees Breyten Breytenbach se brief aan Ampie Coetzee tydens Tuin van Digters 2020
(Foto: Breyten se brief deur Willem Mulder)             
                                                                                 

Paname

                                                                                  Laataand, 27 Nov. ’20

 

Liewe Ampie,

 

Kort en kragtig. (Selfs ‘n ou hond kan leer om minder te blaf : dis mos nie die wêreld se skuld as hy nie meer so mooi kan sien nie !)

Dus, ek skryf hierdie laaste brief vir jou. Ek weet nie of dit voorgelees gaan word deur Vrolike Erns of deur Roosterboek nie (hy sou by naam so byna familie van jou kon wees). In ieder geval, Klyntji wat, so verneem ek, intussen aan die grootword is – rooi hakskeentjies en oor die onderdeur loer en « ma, she’s making aais at me » en so – was so gaaf om aan te bied om die brief te wil besorg. My dank aan hulle. Dit gaan nie lank word nie.

Oftewel, soos ons ou pêl Daantjie Saayman so lief was om te sê terwyl hy skeef teen die wind staan en sy snorpunte draai : « Dis nie te sê nie. » Ons kom nie meer by die kern uit nie – die skinderstories oor so-en-so, of John se olywe soet en sappig gaan wees vanjaar, die wyse opweging van die distrik se wyne en die nog wyser waarskuwing om nie aan Schalk Burger se bo-arm spiere te probeer voel nie, die ineenstorting van die ANCstaat sommer so broek-laat-sak in Kakstraat, die saam lag en die saam huil… dit alles sal moet oorstaan totdat ons mekaar weer sien. Hopelik nie te ver in die toekoms nie. Intussen moet jy en Daantjie maar die wynbedryf aan die dryf probeer hou daar bo want hier benede in Cofidia is dit droewig. Dis ‘n baastid om mens te wees, maar ‘n hond kry nie eers ‘n doppie nie. Ek is seker Jan Biltong en Ingrid Jonker en Djyks Gerwel (hy was hoeka Daantjie se tjom, ons ken mos vir ammel ons is ammel se pêl) en Oom Martiens Klipwerk en bra Willie Kgotsitsile en my groot vriend Van Zyl – nou praat ons van die eerstespan – sal uit groothartigheid vir julle help om fluks te wees by die vat. André sal ook maak of hy julle wil bystaan, maar hy was ‘n skinker en nie ‘n drinker nie.

Nou praat ek myself skoon uit enige haas om by julle aan te sluit want ek weet voorwaar darie vate en karba’s gaan leeggesuip wees teen die tyd dat ek my opgeleefde lewe ewe statig en vaal van die stof kom aanmeld.

Watter soort van rekenskap sal ek vir jou kan gee ?

Dit gaan goed met die Sentrum. Eintlik bo verwagting – dis nou in vergelyking met soortgelyke instansies. François Lötter hou wel sonder enige inkomste behalwe net suiwer verdienste die skip op dreef – en dis ‘n skande, ek sê dit sommer pront : dis snode onerkenning en onerkentlikheid en lawwe stront dat die gemeenskappe en die kitaarslaners in die distrik nie besef die Sentrum is tot almal se beswil, dat ons almal aandeel daaraan het en daarby baat en dat daar ten minste in tye van nood die nodige steun behoort te wees om die Bestuurder maandeliks te help vergoed vir sy liefdeswerk nie. Sou hulle dink hy moet lewe van vars lug uit Groenberg ? Jessica, wat goud werd is, is seker in dieselfde penarie. Met Grietjie gaan dit so goed as wat sy sal toelaat dat ons dit vir jou sê. Sy is ‘n vrou wat so te sê die ene hart is, jy weet dit en het dit lankal geweet, en daardie hart hou vas en hou aan. Ons sal probeer, al is dit moeilik om so van vér te kan help, om haar belange te verdedig. En Kobus word ‘n man, ‘n goeie en begaafde en ordentlike mens wat sy plek in die lewe volwaardig gaan fatsoeneer en vol staan. Hoe dink jy dit sou anders kon wees ? Jy het hom dan so grootgemaak ! Hy dra sy hare langer as toe jy nog ‘n ogie op hom kon hou en solank hy verby die kuif kan kyk dit pas hom. Mettertyd gaan hy leer hoe om ‘n videokamera te hanteer. Marko, vermoed ek, kry swaar om nie te wys hoe baie hy jou mis nie. Ons almal mis jou, jou liewe ou wegloper !

Daniël Hugo is vanjaar se Digter op die werf. Dis wonderlik dat so ‘n belese en beleë woordkunstenaar en sinmaker sy diep stem kom laat hoor om met die mense te toor. Ek weet nie of jy ‘n hoed of ‘n keps saamgeneem het nie. Indien wel is ek seker jy lig dit net soos ek myne lig om te sê : Welkom in hierdie plek wat ook joune is.

Sover ek weet gaan dit oukei met die Sentrum, met die Bôrdienghuis en die boekwinkel en die galery en die beplande programme. Mense se talente peul oral uit.

(Miskien moet ek tog herhaal – al het jy dit ook geweet – dat die plek nie daar is vir my nie ! Dit was die oumense se oudwordplek in die skemertyd en my broers en suster se vandaan en grootwordplek en nou bly ons familienaam verbonde daaraan – en ek is bly en trots dat dit so is, net soos Ounooi en Oubaas ook bly sou wees.)

Maar die Sentrum is veel méér ! Dit gaan ‘n vergryp teen die geskiedenis wees as dit, en soortelyke instansies, nie tot ‘n volle potensiaal ontplooi nie. Letterlik op die gevaar af dat ek nou vir jou herhaal wat jy self besef en in werking probeer bring het, gaan ek ons daaraan herinner dat jou grootdroom ook wyer gedeel word : dat hierdie Sentrum ‘n onbevooroordeelde en uitdelende en onmanipuleerbare vuur- en saamsmelt en skeppingskroes mag wees vir die uitklaring van wat ons, as klôgoed van dieseimde oer-aia, in gemeen het. En wanneer daar onregte en onkunde en ongevoeligheid en misverstande mag wees – dat ook dit besleg en getransformeer word. Dit gaan immers om saamgroei. Met inagneming, altyd, van die spesifisiteite van hierdie dorp en hierdie distrik en hierdie streek. Die kruks en die kruik van « daar is baie kamers in my vader se bôrdienghuis » moet oral waar daar ‘n plaaslike is wortel kan skiet, gevoed deur die rykdom van diversiteit.

Elke goddelike dorp en nedersetting in die Boland en die Hartland en die Swartland en Namakwaland en die Rûens en die Hantam en die Bokkeveld en die Richtersveld en die Keisie-bo en die Karoo en die Klein-Karoo in wie se maan en sterre ons glo behoort so ‘n plek te hê, gedra en gebind en gebruik deur die gemeenskappe van so ‘n omgewing. Selfs in Sjymbos, daardie Gamorrasplek, moet daar tog seker nog goeie Israeliete wees, dan nie ?

(Daar gaat ek al weer ! En ek probeer juis so hard om nie aan die blaf te gaan nie…) Maar as ons sou moes wag totdat die mag afgewentel word van bo kan ons maar netsowel onder die naaste wingerdstok gaan lê en slaap. Politici is skelms. Was nog altyd so en sal altyd so wees. Wanneer hulle die dag daar aankom om antipon of spek te verkoop sal ek maar liewer sê ek pis nie in die sop nie, ek glo nie in consultants nie, ek doen nie Viesboek nie, en my ander gewoontes is  ook redelik skoon.

Want daar is vir almal ‘n heenkome : vir die soetbekjakkalse en kunsteproewers en glymeraais en gatkruipers en rustende dominees en koekoekboere en rugstekers. Trouens, mens gee nie om wie vir wie steek nie solank daar net ook ‘n verbysteek van die klein-ek-grootbek van eiebelang en belangrikheid kan wees om by ‘n daadwerklike en ootmoedige saam-mekaarandersmaak uit te kom. Darem met gehalte navorsing en inventering en bewaring en weergee. Sodat ons mekaar onbeskaamd in die oë kan kyk.

Ampie, jy moenie sulke groot woorde in my mond lê nie al proe hulle ook lekker. Dink nou aan die arme mens wat dit moet voorlees !

Wat bind ons – en verblind te veel naaiywerige beterweters wat nié wil sien wat hier aangaan nie ? Eerstens, in die geval van Burgerstraat se Grevilleas – en dit sluit nie die Griek en die Libanees en Miesies Knox en die Reverend om die hoek uit nie – is dit hier dié taal met of sonder woorde soos van besit geneem deur ‘n hele opslag opwindende jong digters van heinde en oral en van Heideveld en vannie Kaap (al vra mens jou af of ‘n digter ooit ‘jonk’ kan wees) : hulle wat wêrelde verbeeld en oopskryf tot in Gent maar dan in alle variante van Afferkaans. Eat your heart out, Mistah President.

Jy het dit geweet en jy het dit gesê (korter as wat ek my draai kan kry) – mens kan nie oop wil gaan dig behalwe in jou ma-se-taal en jou pa-se-praat nie. Watter voorreg het ons tonggenote dat die vermenging en verryking en kruisbestuiwing en liesbestryking van lier en papier nog so lewendig vars (en besing, en bevraagteken) om ons is ! Ons het dit binne ons bereik om te kan uithaal en wys ons basterskap is nié meer gelykstaande aan baasskap en miesies-sê nie, moes dit nooit gewees het nie, dêmmit, al gaan ons daardie vuil nog lank met ons hê.

Natuurlik weet ons – en jy het dit maar te goed geweet en kon die siddering van wete dalk nie langer verduur nie – ons wêreld is in haar moer (op Frans is die aarde ‘n vrou). What else is new, pussy-cat ?

Maar ook al staan ons met die rug teen die muur : wie gaan ons keer indien ons om sou draai om nog ‘n blerts of twee teen die muur te skryf ? ‘n Graffiti, ‘n vanselfsprekendheid soos, geen nasiebou sonder die boere. 

Byvoorbeeld. Tensy of tot tyd en wyl koek gratis uitgedeel word aan die volk en die piepel deur Luthuli House.

Ek hoor jou, broer Ampie. Kom ons maak dan daardie wall of lamentation, die roubeklagmuur, iewers staan in die tuin. Miskien is dit klaar daar ?

En ek droom daarvan dat jou naam nie vir ons verlore gaan nie, wat ook al gebeur. Dat dit deel van jou nalatenis is dat hierdie toevlugsoord ook bekend gaan word as WOORDMAKERSVALLEI. Dat daar skryfresidensies gaan kom op die plase waar die yweraars kan redeneer met die bitter eende, hulle kan bekeer tot blyer tyding, en die berg in kan vaar om plant en dier en kewer en mier se noemnaam op te teken en na te vors. En aan te gee. Dat gedigte en ander gedagtes op vlae in die jaart kan wapper, ‘n bamboesbos van ruisende klanke om die engele se vlerke skoon deurmekaar te maak. Dat daar gedans sal word, dat daar seremonies mag wees sodat ons kan lag, dat Kaapse sonnette in beurtsang en a capella gesing mag word, dat groente weer gekweek word vir die mense om te eet, dat daar ‘n optog in die strate mag wees een keer per jaar om die skeppersvolk as opgestopte poppe te gedenk. Dink net hoe breed sal ons daar langs mekaar sit op die wa wat die twyfelaars in die ou dae galg toe vervoer het ! En dat ons ‘n klippespel sal hê met op elke steentjie die gegewens van ‘n méns of gebeurtenis of song of gedig of gesig, ‘n plavei of ‘n blokkiesraaisel teen die ewigheid. Ons sal die klippies saam met ons neem deur die wêreld, ons sal dit uitruil en opveil tot bate van hierdie werf.

Ek weet nie of ek weer vir jou sal kan skryf nie. Jy moet vry wees om jou eie pad die berg oor te kies. Jy weet ons is hier, so baie van ons – van Jan Rabie na Adam Small na Petra Muller na Neville Alexander… Van Daantjie wat wil vra wat gaan hier aan waar daar niks aangaan nie na Van Zyl wat met die een oog oop knor dat ons nie moet dink hy slaap nie… Al die exiles en die ballinge en die komkommerdiewe en die tuiskommers, almal van ons Bolanders en binnelanders en uitlanders om ons vuurtjies onder die suidersterre. En as dit partykeer lyk asof ons oë traan is dit maar net omdat die rokie verkeerd gedraai het.

Ons wens jou – soos altyd – alles wat mooi is toe. Jy was lief vir wat mooi is. Goed gaan en veilig wees, broer.

En – omdat jy eintlik nie meer hier is om lekkerbekkig te wil wees nie – ha ! – ‘n paar gedigte :

 

son en maan

 

                                      die ou liegdigter gee

aan aan die jong digter :

om eendag mee te bieg

dat dit aand word

 

 

nowhere

                                     now here

                                        to die  

                            

                                        ek bieg

dat ek al vanaf die wieg

se tussen is en is nie

lieg om aan die lewe te bly

soos ‘n sleg mens

 

maak my dood

indien jy hier verby sou kom

sommer so op pad van is na is nie

hier nie

want dis Saterdag en dit word koud

 

voor jy te oud is om die daad te doen

 

 

 

moenie in die hand trap nie

 

                                              oud geword

in die woorde opgedeel

oor ‘n lewe saamgedra

soos handspieëltjies

                                           om by die driwwe

staan te maak vir die opvang

van nag en van maan

 

en soms wanneer dit lig word

hier en daar miskien ‘n woord vergeet

wat anders verwag kan word van ‘n opgedeelde

sal ek nie weet nie

 

as julle allerdings op reis

na ‘n binneland   al soekende na ‘n ingespieëlde eenheid

dieper sou waad om na die sterre te kyk

waar vuurtjies eens gebrand het

 

luister na ‘n ou man se stilte

oppas om nie in die glas te trap nie

 

mens weet nooit

 

 

« Kyk hoe die jare van geen belang is nie. Kyk hoe sorgvry is daardie ek wanneer hy aan die oseaan raak en dit ruik, hoe hy ingelyf is by tyd. Kyk na die klippies in die sand. Nou is ek mens. Dit is waaroor die Tuin gaan : die klip wat nie daar is nie.

Dit is hoekom ‘n gedig oor woorde gaan. »

 

                                                  –   Jan Afrika