BREYTEN SE KUNSUITSTALLING SKEURSELS EN BOEK HOKHOKAAI FRAGMENTE

VIRTUELE BEKENDSTELLING VAN BREYTEN BREYTENBACH SE KUNSUITSTALLING SKEURSELS EN VOLKSBOEKIE OF ’N TRAKTAAT HOKHOKAAI FRAGMENTE IN WELLINGTON

Breyten help Breytenbach Sentrum met Skeursels en Hokhokaai Fragmente

Die digter en kunstenaar Breyten Breytenbach het nie stilgesit sedert die Covid-19 pandemie almal in die wêreld se doen en late van Maart 2020 op alle terreine drasties ingeperk het nie. Die resultaat is ’n volksboekie of ’n traktaat, HOKHOKAAI FRAGMENTE, en ’n uitstalling, SKEURSELS, van nuwe kunswerke wat op Saterdag 10 Julie 2021 van 11h00 virtueel van die Breytenbach Sentrum in Wellington hier op die webwerf by www.breytenbachsentrum.co.za bekendgestel is.

 

 

Breytenbach het die bundel en kunswerke spesiaal geskep as deel van die Breytenbach Sentrum se projek Woordmakersvallei en die nuutgeskepte Grevilleas Steunfonds om fondse in te samel om die voortbestaan van dié gemeenskapsentrum in die hartjie van Wellington te verseker. Breytenbach het saam met sy ouers en jongste broer en suster in Grevilleas gewoon. Die Breytenbach Sentrum is in 2007 geopen nadat die Breytenbach-familie ingestem het om die hoofgebou (bekend as Grevilleas) en ander geboue en die terrein te omskep in ‘n kuns-en kultuursentrum waar alle lede van die gemeenskap tuis kan wees en aan verskillende opleidingsprogramme en ander interaktiewe projekte kan deelneem.

Breytenbach het Kobus Coetzee, die jong kunstenaar van Wellington, genooi om sy kunswerke saam met hom uit te stal.

’n Spesiale oplaag van 100 van HOKHOKAAI FRAGMENTE sal gekoop kan word teen R450 per kopie. Francois Lötter kan gekontak word by [email protected].

 

Breyten Breytenbach skryf as volg oor WOORDMAKERSVALLEI se SKEURSELS en HOKHOKAAI FRAGMENTE: (lees Breyten se volledige skrywe hier)

’’Miskien word die ware gesig bedek met ‘n doek of ‘n vel papier wat die krapspore van verganklikheid probeer na-klank en nastreep. Dit wat neerslag vind is dan blyke van erkentlikheid en dank om méns te kan wees tussen hierdie medewesens in hierdie plek.

Ook al is bewuswording ‘n verbleiking van kleure.

ek wens

                             ek wens so

                             ek was ‘n mens

Die bydrae tot die Breytenbach Sentrum van die huidige werk-in-wording wat grotendeels tydens die afsonderingstyd van inhokking ontstaan word SKEURSELS genoem. Deels omdat dit in gemengde media is – waterverf, akriel, plakwerk – maar ook omdat dit niks méér kan verbeeld as die versnipperde geheue aan ‘n geheel nie. Van die klein formaat werke sal u sien het ‘n voorkant en ‘n agterkant, ‘n ‘kykkant’ en ‘n   ‘agternakykkant’.

Miskien lê die gesig waarna ek verwys tussen die twee.

Ek wil die uitstalling beskou as die bevestiging van ‘n verbintenis aan hierdie streek se mense en geskiedenisse en aan die soeke wat ons onderling verbind. Wat anders is dit as ‘n saammaak van die bevestiging van menswaardigheid al word ons ook te dikwels verblind deur angs ?

Die Breytenbach Sentrum is so ‘n kruispunt van wedersydse omvorming. Dit is nooit ‘ons’ s’n nie al bly dit ook ‘n herinnering aan behoort. Dis ‘n ruimte van aangee waar ervarings en insigte en vaardighede gedeel en waar van mekaar geleer kan word. Dit is ook ‘n proses van herkénning waar daar  uitruiling mag wees tussen die hier en dié en dit wat van elders kom.

As konkretisering van die help dra aan die oorgange van blootstelling dink ek dié van ons wat meer deurwinterd is, ons ouer reptiele wat nie meer baie vel het om te verloor nie, behoort elke keer ‘n jonger kunstenaar te vra om tegelykertyd uit te stal. Dit is my voorreg om vir Kobus Coetzee te nooi om saam so ‘n tradisie te begin. Maar dit is ook die voortsetting van ‘n ou vriendskap.

Belewenisse van saamgroei vertaal tot die uiting van ‘n taal wat die strewe na skepping vergestalt. Daardie gang is ons droomboek teen sterwe sodat ons mag aanhou sterre plant in die erfenisaarde. Die droom is dat hierdie Sentrum eweneens die beliggaming kan wees van ‘n WOORDMAKERSVALLEI vir ander.

Hier kom ek dan 

met wyle tyd 

my ou koue pampoen 

waarvoor niemand meer skrik – 

al is dit ook so dat 

om in oorskiettyd te verwyl 

‘n ekstra skeppie sou beteken – 

maar so is dit dan 

soos dit eintlik altyd al is 

en sou wees 

‘n geval van pampoenmaan in die dam 

terwyl die son opkom 

op hierdie plaas 

moet mens jou immers oplaas 

met die lig versoen  

 

Tyd verwyl en word dalk yl. Tyd is taal. Taal is tyd gehaal uit die aarde. Tyd is dus syn en syn is, sover ons dit kan ervaar, taal-in-wording. Is dit waar ? Die waarheid is fragmentaries van aard en soms is dit net ‘n maan in die dam.

Saam met hierdie uitstalling, en danksy die Breytenbach Sentrum, verskyn daar ‘n boek – meer in die lyn van ‘n volksboekie of ‘n traktaat :

HOKHOKAAI FRAGMENTE. Dit bevat geen wysheid en weer eens is dit die gedeeltelike en soms donker weerspieëling van ingeperkte tyd.

 

             al-wat

                                          oor-bly

                                          uit oer-tyd se wees

                                          is hees pou se

                                          kon-krete

                                          po-e-sie

Ek wil graag die mense en die instansies wat die publikasie moontlik gemaak en bewillig het bedank : Alida Potgieter, Catherine du Toit, Daniël du Plessis, Anne-Ghrett Erasmus en François Lötter – en Die Hiemstra Trust en Spier.

Maar woorde bring ook verantwoording. Vir my sal dit wees teenoor my ouers, Hannes en Kitty. En my broers, Cloete en Sebastiaan en Ampie. Wanneer word die masker ‘n verband om die gesig, om die wond wat eens ‘n mond was?’’