Breytenbach Sentrum 2023 Verslae
VERSLAG: VOORSITTER VAN DIE BREYTENBACH TRUST 2023
Beste Trustees & Direksielede
My grootste gewaarwording wanneer ek aan 2023 nadink, is dat ons inderdaad teruggekeer het na die groot NORMAAL, wat dit ookal is! Ek weet, verlede jaar hierdie tyd, het ons sonder omhaal van baie woorde verklaar dat ons nog nie opgevang het met wat agtergeraak het nie. Wel, dit voel vir my ek is steeds daar. Miskien leef ons inderdaad drie lewens ineen en moet niemand van ons hier wees nie, maar by ons gesinne, besig om op te maak vir verlore tyd…
Maar iemand moet keer dat ons nie alles verloor wat vir ons van waarde is nie, die prysenswaardige en mooi wat sin maak tussen al die pynlike chaos in ons samelewing waaraan ons baie min kan doen. En dít is wat ek vanaand wil sê, die familie van die Breytenbach Sentrum maak ‘n verskil. En al sien nie almal in Wellington en Drakenstein en Suid-Afrika dit raak nie, is julle bydrae hier en nou van onskatbare waarde! In hierdie gees wil ek namens die Sentrum ons nuwe medewerkers op die Direksie en Trust hartlik welkom heet. Elmien Rossouw, Lorraine Kuun en Daniël Lötter, welkom, welkom!
Dit gee vir my hoop, dat as ons dit hier in die kleine kan regkry, dan kan ons dit daar buite ook doen. Die toekoms van gemeenskappe en ons land is nie meer in die hande van die verkillende vlakke van regering of politici nie, maar berus toenemend op die bydraes van burgerlike organisasies en vrywilligers.
In 2023 was daar heelwat hoogtepunte in ons besigwees hier by die Sentrum. Ons was bevoorreg om op 16 September saam met Breyten en Yolande sy 84ste verjaarsdag te kon vier! Ten spyte van vele uitdagings, met veral die weer, kon ons vanjaar vir ‘n 12de keer die Tuin van Digtersfees by die Sentrum ervaar. Ons lig die hoed vir die “feeskomitee” (Francois, Louis, Jeannine, Jessica, Isabeau, en die ander wat ek dalk vergeet het) vir hulle inspanning om hierdie besondere nisfees ‘n suksesvolle werklikheid te maak.
Ons kon ook met die munisipaliteit onderhandel vir noemenswaardige korting op ons munisipale fooie. Ons kon op een of twee na, al ons huurruimtes opknap en groter waarde vir geld vir ons huurders verseker. Ons kon as gevolg van laasgenoemde vir die eerste maal sedert die bestaan van die Sentrum, al ons ruimtes verhuur kry, Francois se kantoor ingesluit! Ons kon, indien ons die agterstallige munisipale skuld buite rekening laat, vir die eerste maal in ‘n baie lang tyd finansieël gelykbreek.
Ons nuwe koffieshop/restaurant onder Gerhard van Aardt se bestuur slaag daarin om ‘n warm huislike en verwelkomende atmosfeer te skep. Heerlike en gesonde etes teen bekostigbare pryse bring al hoe meer voete na die Sentrum.
Ons dank en waardering ook vir Gerhard vir sy passievolle bestuur van die Breytenbach Boekklub! Die Book Traders se fenominale versameling, gepaard met Esther se persoonlike en vriendelike diens maak dit steeds Wellingtonners (en gaste uit ander plekke) se voorkeur boekwinkel. Ons het ook beleef hoe die boonste vlak van die Sentrum ‘n kreatiewe spasie geword het met nie minder nie as drie argitekte wat nou by ons huur. Marius van Wyk Finansiële Dienste, René de Villiers en Jankie & Johann Peek met hulle afsonderlike besighede is reeds gevestigde huurders wat bygedra het tot ‘n mooi geheel.
Almal wat hierdie jaar die Breytenbach Galery se uitstallings en bedrywighede gevolg het is dit eens dat Anne-Ghrett (en Kobus) weereens bewys het waarom sy (hulle) een van die top kurators in die Wes-Kaap is! Ook Curtis van Kerwel, met sy wonderlike musiektalent en sagte aanslag was vanjaar op vele vlakke by die Sentrum en ons Sentrumfamilie se projekte betrokke. Miskien is dit juis hierdie betrokkenheid van ons huurders by die aktiwiteite van die Sentrum wat dit by die Breyten anders maak.
Die gedugte span by die Bordienghuis onder leiding van Jeannine du Frene het weereens vanjaar bewys waarom mense van oral af op ‘n Vrydag- of Saterdagaand eerder kies om onder die wildevy of in ons knus teater te kom kuier as enige van die menige ander opsies wat die Boland bied! Dankie ook aan Daniël Lötter wat sy volle gewig kom ingooi het by hierdie familie, of dit die bekendstelling van ‘n boek of ondersteuning by ‘n vertoning is, jy is reeds onmisbaar.
Twee van ons getroue huurders se kontrakte het in 2023 tot ‘n einde gekom. Marieke Kruger se spasie sal vir eers as stoorruimte verhuur word. Ons is egter baie opgewonde om een van die Sentrum se eerste huurders en medewerkers in René de Villiers (Koodoo) se winkel terug te verwelkom. Desireé Malan sal van 1 Januarie 2024 af haar intrek langs Jessica se kantoor neem.
Ek wil weereens vanjaar dank en my waardering uitspreek aan ‘n klompie steunpilare sonder wie se ondersteuning dit moeilik sou wees om tot hier te kom. Louis Duvenage vir jou vriendskap en soberheid. Jessica vir jou lydsaamheid en gewilligheid om die ekstra myl te loop ten spyte van moeilike persoonlike omstandighede. My mede-Trustees, oud en nuut, en ons getroue huurders vir julle reuse-aandeel in die voortbestaan van ons geliefde Sentrum.
Dankie aan almal wat lief is vir die Breytenbach Sentrum!
Vriendelike groete
Almero Oosthuizen
Voorsitter: Breytenbach Trust
VERSLAG: VOORSITTER VAN DIE DIREKSIE VAN BREYTENBACH KULTUURSENTRUM MAATSKAPPY 2023
Inleiding
In sy digbundel “Nou in infrarooi” skryf Tom Dreyer in die gelyknamige gedig:
“Laat ander mens glo in ryke en siklusse
en dinge wat herhaal.
Ek droom
oor die presiese konfigurasie
van son en blare toe jy oor my leun:
natuurlik is ons onvervangbaar.”
Hier by die Breytenbach Sentrum in Wellington drink ek gereeld ‘n koppie van Gerhard van Aardt se Engelse tee in ons pragtige Digterstuin. Hier is vinnige en verniet internet-toegang. Sou daar tyd wees, gaan kyk ek gou-gou na die nuwe kunsuitstalling in Anne-Ghrett Erasmus se kontemporêre Breytenbach Galery, of gaan vul ek my Jan Rabie-versameling aan in Ester Kotze se The Book Traders tweedehandse boekwinkel. Party keer sit ek sommer net, want miskien kom ‘n geliefde om die hoek deur die son en die blare aangestap…
Hierdie sieraad is opgebou met jarelange werk en volgehoue ondersteuning deur tallose plaaslike vrywilligers, kliënte, huurders en werknemers. Vanaf die voordeur waar ons kantoorassistent Jessica Ruiters se vriendelik glimlag mens groet tot doer agter in Ounooi se Jaart waar die bedrewe Jeanine du Frene en Jenny Bastiaan die Bôrdienghuis se vlae laat wapper, is ek trots om deel te wees van ‘n vriendelike en vergewensgesinde kultuursentrum. Dis uitdagend en vra ons vrae oor identiteit en taal en konfigurasies van son en blare. Tog seëvier vryheid van spraak en assosiasie hierso, al sê wie ook al wat.
Finansies en Korporatiewe Bestuur
Die Sentrum se finansiële state word op ‘n maandelikse basis bygehou met die hulp van FHBC Rekenmeesters. Danksy die sagtewareprogram XERO word ‘n maandelikse verslag opgestel ter insae van direksielede. Die basiese rekenkundige beginsels word toegepas met alle brondokumente beskikbaar op die inkomste- en uiitgawestaat. Die jaarlikse finansiële staat word ook opgestel en nagegaan deur FHBC Rekenmeesters en afgeteken deur die direksielede. Hierdie state is publieke inligting en word gebruik in aansoeke om befondsing, asook in verslagdoening waar nodig.
Die Sentrum is ‘n Publieke Weldaadsorganisasie met Artikel 18-status in terme van die Inkomstebelastingswetgewing. Met donasies aan die Sentrum verkry donateure ‘n kwitansie vir die bedrag wat dan vanaf belasting aftrekbaar is.
Tans is die finansiële posisie van die Sentrum stabiel. ‘n Instelling soos hierdie het ‘n Uitvoerende Bestuurder nodig sodat dit optimaal kan funksioneer. Dit is egter onwaarskynlik dat ons kontantvloei so ‘n aanstelling in die volgende paar jaar sal toelaat, behalwe as die nodige befondsing vanaf ‘n skenker ontvang kan word. Gevolglik is die bestuursmodel stelselmatig aangepas om die huurders te ondersteun in hul besighede, en om sodoende steeds die visie en missie van die Sentrum uit te bou. Die Sentrum is ‘n platform vir strategiese vennote om te gebruik in die uitvoering van hul doelwitte.
Nuwe vennote word gemeet aan die Sentrum se visie en missie voordat besluit word op samewerking.
Voorts vergader die direksie kwartaalliks en word die agendas en notules stiptelik bygehou en geliasseer. Hierdie notules dien dan ook as werks- en inligtingsdokumente aan die direksie. Die dokumente lê ter insae van die publiek indien daar belangstelling is om dit na te gaan.
Projekte
Hiermee ‘n lys van projekte met die verslae aangeheg soos aangedui deur die *:
Tuin van Digters*
Breytenbach Galery*
Cloete Gemeenskapsgalery*
Alma Nel Dramaskool
Dis my Ding, Wellington*
Die Bordienghuis Teater*
Curtus van Kerwel Musiekskool*
Cloete Gemeenskapsgalery
Breytenbach Sentrum Boekklub*
Donateurs en borge
‘n Woord van dank aan die volgende lys van borge wat dit moontlik maak vir die Sentrum om sy deure oop te hou:
Dagbreek Trust, NB Uitgewers, ATKV, Boland Cellar, Drakenstein Munisipaliteit, Rupert Historiese Huise-stigting, Prosperity Management Africa, Dagbreek Trust se trust vir kuns, kultuur en erfenis, Naledi, Protea Boekwinkel, Turksvy Publikasies, Ons Klyntji, PEN Afrikaans, kykNET Fiësta, Bargain Books, Die Bôrdienghuis Teater, The Book Traders, Breytenbach Galery, koffie@breytenbach, War Room Media, Isabeau PR & Communications, Rietjie Lötter, dr. Martie Browning, Cummings Gastehuis, dr. Manie Rust, Francois Theron.
Ons was by vanjaar se Tuin van Digters-naweek in September bevoorreg om Breyten Breytenbach as gas te hê. Op die Saterdagaand het hy saam met Riaan Malan en Dominique Botha gedigte voorgelees. Met die grootste respek haal ek gedeeltes aan uit sy openingswoorde dié aand, waarin hy die belang van die Breytenbachsentrum benadruk:
“Net om te ondersteun watter voorreg dit vir my is om hier voor julle te staan in ‘n ruimte wat sonder voorbehoude en met al die denkbare onderlinge verskille gerespekteer en in stand gehou word. Dis ‘n weerspieëling van wat die geskiedenis van ons gemaak het, en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning. Die punt is egter: ons gee wragtag nie toe dat ons so laat staan is nie. Want hier is ‘n ruimte vir hibridisering en meer, vir saam mekaar anders maak. Dis ‘n plek waar woorde lewe, in bevraagtekening ontvang, en in die kreatiwiteit van ontvorming gebore. Dis gemeenskappe, maar dan al die gemeenskappe, om van besit te neem, om by en van mekaar te leer, om meer as net verdraagsaamheid te vergestalt. Om in verdrag saam die vrag te dra.
“Mens wil hê elke dorp in hierdie streek moet oor so ‘n ruimte kan beskik. Outentiek en outonoom, of dit nou feestelik of andersins vorm kry.
“Dis ‘n voorreg om meer te kan gee as wat jy ontvang het, of wat jy gaan ontvang. Niks is so bevrydend soos om weg te kan kom van abstraksies en deel te kan wees van en deel te kan neem aan die bemagtiging van menswaardigheid nie.
“Daarom, dankie aan die en daai wat dit moontlik gemaak het, in vertroue en goeie wil. Die borge, die betrokke vrywilligers, die aktiewe en verdraagsame medewerkers.”
Toekomsplanne en Bedankings
Ek wil met daardie laaste woorde ook saamstem. Dankie aan elkeen wat toegewyd werk om die Sentrum se deure oop te hou. Party maal voel dit maklik, ander kere moeilik. Dan luister mens tydens ‘n Dis my ding, Wellington-sessie met verwondering hoe Eugenie Wiggens, dr. Manie Rust en Johan Conradie vertel van die drome tydens die beginjare en weet dan van nog baie stories wat geskryf kan en gaan word.
Ons is tans in gesprek met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT of CPUT) wat versoek het dat die Sentrum hul bystaan as strategiese vennoot met sosio-maatskaplike opheffing in Wellington.
Amptenare van Drakenstein Munisipaliteit asook die plaaslike SAPS besoek die Sentrum gereeld en saam skaaf ons aan planne om met hulle saam te werk aan projekte.
Die digterstuin spog met ‘n nuwe rolstoel-toegang, asook nuwe banke.
Ons is aan die inligting versamel vir ‘n beplande dokumentversameling en ondersteun projekte in die dorp soos WAG/Stopmisdaad asook skole waar ons kan.
Hoe wonderlik sal ‘n boorgat en groentetuin langs die Digterstuin nie wees nie!
Dankie spesifiek aan al die direksielede, die Breytenbach Trust asook Jessica Ruiters vir noue samewerking in die uitvoering van ‘n gedeelde visie tot voordeel van die gemeenskap waarbinne die Sentrum werksaam is.
Die wenner vanjaar van die Ingrid Jonker Prys, Dominique Botha, gee in ‘n gedeelte van haar gedig ‘die lewe is ‘n eendagvers’ uiting aan die uitdagings en hoop waarmee ons die toekoms bejeën:
“my pa het ‘n huis gebou
wat die wind nie kon omblaas nie
riete was fluite in die vlei
winter ‘n wit klavier van glas
flaminke het die laatmiddag oor rietpan
omhoog gegooi
in ‘n banier van roos en vuur”.
Met vriendelike groete
Louis Duvenage
Voorsitter: Breytenbach Kultuursentrum
PROJEKVERSLAE 2023
1.Tuin van Digters 2023
OPSOMMING:
Die 12de Tuin van Digters-fees, wat op 15 en 16 September 2023 in die geboue en op die terrein van die Breytenbach Sentrum aangebied is, was weer ‘n sukses en is ondanks reenweer en koue deur ‘n groot groep digters sowel as liefhebbers en ondersteuners van die Afrikaanse digkuns bygewoon. Die protesdigter Diana Ferrus is as digter gehuldig en Breyten (wat op 16 September se 84ste verjaardag by TvD gevier het) en Yolande Breytenbach was ook teenwoordig.
’n Wins van net meer as R100 000 is aangeteken danksy die getroue jaarlikse borge. Die Dagbreektrust het uit die Trust vir Kuns, Kultuur en Erfenis wat as weldaadsorganisasie geregistreer is, R220 000 in 2023/2024 aan die Breytenbach Kultuursentrum geskenk met Naspers (NB-Uitgewers) wat R85 000 bygedra het. Die hooftent is vanjaar met R17 500 deur die ATKV geborg en het bekend gestaan as die ATVK Akoordtent en die Woordtent met R10 000 deur Boland Cellar wat bekend was as die Boland Cellar Woordtent. Boland Celler het ook wyn geskenk.
Weens ander verpligtinge kon dr. Theuns Eloff van Dagbreek nie vanjaar se Tuin van Digters bywoon nie. Astrid de Vos het Dagbreek verteenwoordig en tydens die seremonie met die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys gepraat oor Dagbreek se betrokkenheid.
Francois Lötter het op sy beurt namens die Breytenbach Sentrum die Dagbreek Trust bedank vir die volgehoue finansiële en ander ondersteuning aan die Tuin van Digters, sowel as vir die prysgeld vir die wenner van die Ingrid Jonker-prys. Danksy Dagbreek se ruim jaarlikse skenking is die Tuin van Digters gevestig as die “Tuiste van die Afrikaanse digkuns.
Volgende jaar se Tuin van Digters sal op 13 en 14 September 2024 plaasvind.
TEMA VAN TUIN VAN DIGTERS 2023 EN HULDIGINGSDIGTER:
Die tema van Tuin van Digters 2023 was lewende woord(e) ter viering van die 12de jaarlikse aanbieding van die samekoms van Afrikaanse digters en liefhebbers van die digkuns by die Breytenbach Sentrum.
lewende woord(e): oor digwoorde wat geskep is wat nooit doodgaan nie en gekoester en lewendig gehou moet word en oor nuwe digwoorde en -tegnieke wat die koers van die Afrikaanse digkuns aandui.
Diana Ferrus, Afrikaanse protesdigter, is die digter wat vanjaar by die Tuin van Digters gehuldig is. Ferrus het op 29 Augustus ook haar 70ste verjaardag gevier.
Digters wat al by Tuin van Digters gehuldig is, is onder andere Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Adam Small, TT Cloete, Wilma Stockenström, Daniel Hugo en Alfred Schaffer.
PROGRAM VAN TUIN VAN DIGTERS 2023:
Die program van Tuin van Digters 2023 het buiten verskeie items waarin hulde gebring is aan Diana Ferrus weer bestaan uit ’n uiteenlopende kombinasie programitems.
Hoogtepunte van die program van Tuin van Digters 2023 het die volgende ingesluit:
- ‘n Treffende en emosionele huldigingsprogram Vrydagaand aan Diana Ferrus waaraan die Mengelmoesdigters, musikante en Diana self deelgeneem het. Saterdag het Frazer en Deniel Barry van Tribal Echo gesorg vir ‘n roerende program, Warrelende Woorde, ‘n Lofsang aan Lady Di, met die sing van Diana se gedigte wat deur hulle getoonset is.
- Die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ‘n debuutbundel in Afrikaans aan die Dominique Botha vir haar bundel, Donkerberg. Dit is gevolg deur voorlesings deur Dominique en Breyten Breytenbach, van hul werke met sang deur Rian Malan.
- ’n Kunsuitstalling, Oulap se rooi maak ook mos mooi, deur Breyten Breytenbach en Marinta Skupin, asook verskeie ander kunstenaars het op verskillende wyses uitdrukking en uiting gee aan Tuin van Digters se tema lewende woord(e).
- ‘n Gesproke woord poësie-teater deur ‘n Belgiese woordkunstenaar en drie Belgiese musikante wat eksperimenteer in woord (stem) en klank (saxofoon en elektriese kitaar) tussen musiekinstrumente en poësie. Hulle aanbieding het gewerk met die oeuvre van die Amerikaanse beatnik digter en aktivis Diane Di Prima, wie as vrou in ‘n destydse manlike wêreld, kwessies soos (eko)feminisme en sosiale ongelykheid in die 1950’s beveg het.
- ‘n Gesprek met Daniel Hugo oor sy tweede bundeling (Vers & kapittel II) van sy versamelde tekste in vier kategorieë: artikels, rubrieke, resensies en onderhoude oor sy eie digbundels en vertalings uit Nederlands.
‘n Uiters gewilde aanbieding deur die Breytenbach Sentrum se jeugdireksie bestaande uit voorlesings van gedigte deur plaaslike digters (jonk en oud) en potensiële gedigskrywers. - PEN Afrikaans se aanbieding wat bestaan het uit digters wat genooi is om gedigte in reaksie op hul voorgangers se werk te skryf en te kom voordra. Dit het behels musikale verwerkings en selfs gedigpogings van kunsmatige intelligensie (KI).
- NB Uitgewers se aanbieding van gesprekke oor en voorlesings uit die nuwe Afrikaanse bundels Ontaard (Pieter Odendaal), Nou in Infrarooi (Tom Dreyer) en A Whistling of Birds (Isobel Dixon – wat nou in die Verenigde Koninkryk bly).
- ‘n Gesprek met dr. Klara du Plessis, wat in Bloemfontein grootgeword het en nou in Montreal, Kanada woon, oor haar drie unieke digbundels waarin Afrikaans en Persies onder meer saam in een digbundel figureer. Die gesprek, wat deur prof. Louise Viljoen gelei is, was ‘n hoogtepunt wat betref toekomsdigkuns tussen Afrikaans en ander wêreldtale.
- Bekendstelling van nog onontdekte Afrikaanse digters uit die verskillende gemeenskappe deur Diana Ferrus se Mengelmoesdigters, wat ook lewe gee aan Ferrus se woorde in die voordra van haar kragtige protesgedigte wat aan gesigloses ‘n stem, ‘n platform en ‘n identiteit gee.
- Dr. Annie Klopper, ’n skrywer, digter en akademikus, dr. Burgert Senekal, ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat wat tegnologie vir sy navorsing oor die Afrikaanse letterkunde, taal en leefwêreld gebruik, en Hunter Kennedy, digter, liriekskrywer en kitaarspeler vir onder meer die Afrikaanse punkrockgroep Fokofpolisiekar het ‘n groepsgeprek gevoer oor KI (Kunsmatige Intelligensie). Veral hoe dit die wêreld met ’n slag getref het en die implikasies daarvan op die skryf van gedigte en ander woordskeppings soos ons dit ken.
- Die gewilde eerste amptelike bekendstelling van Ons Klyntji 2023, die alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en comics publiseer.
- ’n Uitstalling van digbundels en boeke deur Bargain Books sowel as verskeie digbundels en publikasies van ander Afrikaanse digters wat onlangs verskyn het.
- Bekendstelling deur Hanru Niemand se uitsonderlike bundel Gedaantespel, wat terselfdertyd ook ‘n volledige klankbaan het, en dus ook ‘lewendig’ uitgevoer word.
- ‘n Afrikaans 100-inisiatief is in 2022 begin om ’n eeu van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 2025 te vier. Die Dagbreek Trust is die sameroeper van die geleentheid. Prof. Bernard Odendaal van PEN Afrikaans en dr. Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad, wat sameroepers van die domein “Skrywers en Uitgewers” is, het ‘n kort oorsig oor hul planne tussen nou en 8 Mei 2025 gegee.
FINANSIËLE VERSLAG VAN TUIN VAN DIGTERS 2023:
Vanjaar se begroting is soos in die verlede nougeset hanteer deur direksievoorsitter Louis Duvenage met die hulp van Jennine du Frene. Die wins wat gemaak issal soos in die verlede aangewend word om die Breytenbach Sentrum in stand te hou en ook in staat te stel om nuwe plaaslike Afrikaanse digters en projekte te identifiseer sowel as digters van buite die Wes-Kaap en ook uit die Lae Lande en Afrika.
DIE OMVANG EN GEBRUIK VAN TUIN VAN DIGTERS DEUR MEDIA:
Tuin van Digters 2023 is deeglik voor sowel as na die naweek van 15 en 16 September op sosiale sowel as ander nuus- en kunsplatform gedek. Opnames is van sekere items gemaak en op sosiale platforms soos litnet.com, Voertaal, die Sentrum se Facebook-blad en webblad en elders gebruik.
Aangesien Tuin van Digters ‘n naweekfees is, vind mediablootstelling rondom hierdie tyd plaas. Daar kan met sekerheid verslag gedoen word dat Tuin van Digters 2023 ondanks reën en koue uitstekende blootstelling voor en na die tyd gekry het. Uitstekende positiewe verslae is voor en na die tyd geskryf wat op mediaplatorms in Suid-Afrika sowel as Nederland gebruik is.
Besoek gerus litnet.com en die Breytenbach Sentrum se webblad en facebookblad sowel as youtube-blad vir foto’s en verslae oor Tuin van Digters.
Die kykNET-program Fiësta was ook teenwoordig en het reeds ‘n program uitgesaai.
(Besoek litnet.com en die Breytenbach Sentrum se Facebook-blad (facebook.com/breytenbach.sentrum) vir berigte, foto’s en kommentaar oor Tuin van Digters 2023.)
TWEE VAN DIE REAKSIES EN KOMMENTAAR:
Breyten Breytenbach (in sy voorlesing by vanjaar se Tuin van Digters):
“Hierdie is ‘n ruimte vir hibridisering en meer – tesame mekaar anders maak. Dis ‘n plek waar woorde lewe en bevraagtekening ontvang en in die kreatiwiteit van omvorming gebore. Dis gemeenskappe wat dan al die gemeenskappe om van besit te neem om by en van mekaar te leer om meer as net verdraagsaamheid te vergestalt. ‘n Verdrag, saam die vrag te dra. Mens wil hê elke dorp in hierdie streek moet oor so ‘n ruimte kan beskik.”
Jean Oosthuizen (kommentator op sosiale media en elders, verslaggewer en resensent van Litnet en voertaal):
’’Een van die merkwaardigste aspekte van Tuin van Digters is sy inklusiewe aard. Hierdie fees het die vermoë om grense te oorskry met ‘n onverskrokke passie vir die poëtiese vorm. Dit bring digters van alle taalagtergronde saam om ‘n unieke ervaring van klank en betekenis te skep.
Tuin van Digters is ’n viering van die unieke kruisbestuiwing van kulture, idees en emosies. Hierdie geleentheid wys dat poësie nie net ‘n vorm van kunswerk is nie, maar ‘n lewenskragtige krag wat grense kan oorskry en harte kan raak. Dit is ‘n herinnering daaraan dat ongeag wie ons is of waar ons vandaan kom, ons almal van ‘n ryk en gedeelde menslike ervaring is.”
DANKIE:
Die doel van die Breytenbach Sentrum, in samewerking met deelnemende digters, uitgewers, ’n gevestigde skrywersorganisasie soos PEN Afrikaans en ’n borg soos die Dagbreek Trust is steeds om die Tuin van Digters in stand te hou en te vestig as die plek waar Afrikaanse digkuns en digters op allerlei wyses en vorme en op alle vlakke gekoester word.
Die samekoms word jaarliks dieper gevestig as dié plek waar elkeen en almal van alle tale en groepe welkom is om binne hierdie konteks by mekaar en vir mekaar te leer en blootstelling te kry aan dit wat nuut en anders en die toekoms van die taal is.
Almal by die Tuin van Digters by die Breytenbach Sentrum in Wellington is dankbaar teenoor elkeen wat aan hierdie unieke samekoms van digters en liefhebbers van die Afrikaanse digkuns as borge, deelnemers, ondersteuners en besoekers en spanlede deelgeneem het.
Dankie Diana Ferrus wat op haar innemende wyse standpunt inneem oor wat reg en verkeerd is sonder om groepe van mekaar te vervreem. Mag sy nog lank ‘n voorbeeld wees van hoe daar met Afrikaans en Engelse woorde ‘n nalatenskap vir die toekoms geskep word oor saam leef en saam begryp in elkeen se anders wees. Laat leef die woorde van toe en nou en môre!
‘n Groot dankie saam met die hoofborge, die Dagbreek Trust, asook NB Uitgewers, PEN Afrikaans en die lokaalborge, die ATKV en Boland Cellar sowel as elke ander borg binne en buite Wellington.
Ook aan al die uitgewers wat Afrikaanse digters en digkuns ondersteun en plaaslike instansies, werkers en vrywilligers wat almal saam die jaarlikse Tuin van Digters moontlik gemaak het.
Spesiale dankwoorde aan die lede van die trust, direksie en hardwerkende en geesdriftige groep werkers by die Breytenbach Sentrum wat afsonderlik en as ‘n span verantwoordelik was vir die sukses van Tuin van Digters 2023: Jessica Ruiters, Anne-Ghrett Erasmus, Esther Kotzé, Jeannine du Frene, Gerhard van Aard, Kobus Coetzee, Deon Meiring en al die ander medewerkers en ondersteuners.
Ook groot waardering aan Breyten Breytenbach (en Yoland) en Dominique Botha vir hulle volgehoue ondersteuning en bydraes met raad en daad.
AFSLUITING:
Die doel van die Breytenbach Sentrum, in samewerking met deelnemende digters, uitgewers, ’n gevestigde skrywersorganisasie soos PEN Afrikaans en ’n borg soos die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis bly steeds om die Tuin van Digters in stand te hou en te vestig as die plek waar waar Afrikaanse digkuns en digters op allerlei wyses en vorme en op alle vlakke gekoester word.
Mag ons saamstaan om Afrikaanse digterswoorde te laat lewe.
Met vriendelike groete en groot waardering.
Francois Lötter
Feesorganiseerder van Tuin van Digters namens die direksie van die Breytenbach Sentrum
Breytenbach Sentrum
2. Breytenbach Galery
2023 was ‘n jaar van Wielie-Walie-wipplank ry. Die wêreld, die weer, die nuwe kunslandskap, oorloë en vele meer, het bygedra tot onvoorspelbaarheid. Maar, ten spyte van, glo ek steeds dat die Breytenbach Sentrum ‘n veilige oase is op vele vlakke. Want, soos sedert 2010, resoneer Dr Manie Rust se woord, UITNEMENDHEID en streef die galery steeds daarna.
Nuwe bande is gesmee en ou bande versterk. Hier verwys ek na die Suidoosterfees, Die Hessequa Harmoniefees, Cornelia Faassen van NATI, CPUT, Jack Meyer Kunsskool, Dr Mia Oosthuizen en die Kinder- en Jeugliteratuurskool en nou, nuut op die lys, Hugenote Hoërskool.
Die meeste uitstallings en geleenthede wat daarom gereël word, word gekoppel aan die letterkunde, wat as inspirasie dien. Veral is gefokus op die werke van Breyten Breytenbach en Ampie Coetzee.
Lys van uitstallings:
‘n Ver-Ander (Jan Blohm – 28 Jan 2023)
Kuber en Kuns ( gesprek : Carel de Beer en Jan Blohm)
Landskep (Trudy Oosthuizen en Jed Kritzinger. Openingspreker Karen Newman – 1 April 2023)
Merkwaardig (Suidoosterfeesuitstalling by die Kunstekaap: groepuitstalling. Openingspreker: Edmund Jeneker – 26 April – 1 Mei 2023)
Merkwaardig verskuif na die galery (10 Junie 2023: Edmund Jeneker open ook hier)
Ritme & Skandering (‘n Groepuistalling. Dr Amanda Swart is die openingspreker – 8 Julie 2023)
Ex Libris (‘n Groepuitstalling. Openingspreker: Dominique Botha. Gaskurator: Heidi Erdmann. – 12 Augustus 2023)
Tuin van Digters 15/16 September 2023
Oulap se Rooi maak (ook mos) mooi – (Groepuitstalling
Iets van ‘n Heelal (Met Marinta Skupin) – Openingspreker: Prof Elizabeth Gunter
Poësievoorlesing deur Chris van Niekerk
Gedigte deur Breyten Breytenbach4 November 2023
Forté (Hessequa Harmoniefees in Heidelberg. 19 – 23 September 2023)
Groepuitstalling – Openingspreker: Neil Rademan, die Burgermeester van Heidelberg en Anne-Ghrett Erasmus Coetzee
Cadeutje (Groepuitstalling. Nic de Jager is die openingspreker. 18 November 2023)
Lafenis van die Liefde / Balm of Love
Poësievoorlesing deur Chris van Niekerk 9 Desember 2023
Kinder- en Jeugliteratuurskool: Elke laaste saterdag van die maand o.l.v. dr. Mia Oosthuizen. Dit is ‘n jaarlange kursus. Tans is ons besig met die tweede kurses.
Dokumentêre Argief: Hierdie projek staan in sy babaskoene en sal hopelik volgende jaar ten minste in sy kleuterfase inbeweeg. (In samewerking met: Francis Galloway, Rudi Venter en Dr. Lisabé Theron)
Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee
Kurator
3. The Book Traders (Boekwinkel)
2023 was oor die algemeen redelik goed. Die ekonomiese onsekerheid en beurtkrag het wel besigheid gekortwiek, maar die belangstelling in boeke en lees het steeds by die publiek gedurende die jaar konstant gebly.
Ek wil van die geleentheid gebruik maak om my waardering uit te spreek vir die hulp verleen die kere wat daar wel onderhoudsprobleme was.
Dit is egter vir my tog opvallend dat daar toenemend ‘n sigbare verwaarlosing in en om die gebou te bespeur is. Die boekwinkel self is in al die tyd wat ek hier huur nog nooit geverf nie, die plafonne is na die herstel van die waterpype nie terug gesit nie en die termiete is daagliks ‘n groter wordende probleem.
Hiermee spreek ek dan ‘n wens uit dat daar in 2024, soos in die verlede, goeie samewerking sal wees. Die sentrum is tog daar vir ons en ons vir die sentrum
Esther Kotzé
Eienaar en bestuurder
4. Breytenbach Boekklub
Die Breytenbach Boekklub was baie aktief en deelname was goed.
Die volgende boeke is bekendgestel:
- Kanaan: Barend Vos
- Frans Marx: Chris Vorster
- Die Kapokdokter: Francois Loots
- Moorde op Stellenbosch: Julian Jansen
- Moer: Michèle Meyer
- Blou Moord: Francois Bloemhof
- Unbroken: Alwyn Uys
- Infrarooi: Tom Dreyer
- Dolos: Jaco Wolmarans
- Ons skulde: PP Fourie
- Jan Smuts(`n Fotobiografie): Anton Joubert
- Onder `n bloedrooi hemel: Annemarié van Niekerk
- Op pad na Grysberg: saamgestel deur Stefaans Coetzee
- Die gawe van groen: Elmarié Dercksen
- Deelfontein: Nicole Jaekel Strauss
- Van Vaders en vlugtelinge: SJ Naude
- Kwaaiwater: Irma van Zyl
- Duiwelsroos: Leon van Nierop
- Laaste kans: Marita van der Vyver
- Onbeskryflike genade: Stefaans Coetzee
- Die Melkweg en die Miskruier: Jeanette Ferreira
- Die feetjiepolisiediens: Leon-Ben Lamprecht
- Die reis: SD Fourie
- Gebeente: Etienne van Heerden
- Konkel: Pieter Marais
- Salemstraat: Erla-Mari Diedericks
- Leo: Deon Meyer
Die Breytenbach Boekklub is ‘n gemeenskapsprojek van die sentrum. Koste beloop R50.00 per persoon, een glas wyn en verversings ingesluit. Die gemiddelde bywoningsgetalle is tussen 45 en 80 persone.
Die Boekklub kyk terug na `n besondere jaar in samewerking met die onderskeie uitgewers: NB Uitgewers, Protea, Naledi, Penguin en Random House.
Spesiale dank aan Esther Kotzé en Elmien Roussouw wat as vrywilligers hul bydrae lewer. Ook `n groot dankie aan Jeannine du Frene en Jenny Bastiaan vir die beskikbaarstelling van die Bôrdienghuis, asook die voorbereiding van die lokaal.
Laastens aan dr. Amanda Swart, die beskermvrou van die Boekklub, vir haar volgehoue ondersteuning.
Die Boekklub groei en danksy goeie samewerkings met die verskillende uitgewers, kry ons die nuutste vrystellings van boeke.
Groete
Gerhard van Aardt
Koördineerder
5. Die Bôrdienghuis Teater
|
||||||
MAAND | VERTONING | AANTAL KAARTJIES | ||||
12 Januarie | Troue | 60 | ||||
21 Januarie | Jan Blohm | 121 | ||||
28 Januarie | Bruce Springsteen | 96 | ||||
FEBRUARIE | ||||||
4 Februarie | Rise Up | 43 | ||||
8 Februarie | Wysheid en Wyn | 51 | ||||
11 Februarie | Love is in the air | 25 | ||||
15 Februarie | Boekklub | 60 | ||||
18 Februarie | Gert Vlok Nel | 35 | ||||
22 Februarie | Boekklub | 66 | ||||
24 Februarie | Troue | 70 | ||||
25 Februarie | Cat Stevens & Smokie | 77 | ||||
MAART | ||||||
4 Maart | Privaat funksie | 45 | ||||
5 Maart | Arno Cartens | 48 | ||||
8 Maart | Johan Nel | 34 | ||||
10 Maart | Gerald Clark | 28 | ||||
11 Maart | Hooglied Bokkie | 24 | ||||
17 Maart | Filosofiekafee | 33 | ||||
26 Maart | Niel Sandilands | 53 | ||||
29 Maart | Boekklub | 62 | ||||
31 Maart | Mel Botes | 46 | ||||
APRIL | ||||||
5ste April | Wysheid en Wyn | 48 | ||||
12de April | Boekklub | 55 | ||||
14de April | Mixed Tape | 74 | ||||
15ste April | Valiant Swart | 53 | ||||
MEI | ||||||
5 Mei | Filosofiekafee | 27 | ||||
6 Mei | Privaat funksie | 65 | ||||
10 Mei | Boekklub | 60 | ||||
13 Mei | Marcia Moon | 50 | ||||
17 Mei | Dis my Ding | 40 | ||||
19 Mei | Valiant Swart | 63 | ||||
20 Mei | Albert Frost | 37 | ||||
24 Mei | Boekklub | 64 | ||||
26 Mei | Almero | 22 | ||||
27 Mei | Lara Kristen | geen kaartjies | ||||
31 Mei | Boekklub | 60 | ||||
JUNE | ||||||
3 Junie | Lion Raj | geen kaartjies | ||||
7 Junie | Wysheid en Wyn | 27 | ||||
9 Junie | Hanna en Braam | 51 | ||||
10 Junie | Michael Lindt | 21 | ||||
14 Junie | Boekklub | 48 | ||||
17 Junie | Smokie | 52 | ||||
28 Junie | Boekklub | 60 | ||||
JULIE | ||||||
2 Julie | AndreSwieger | 30 | ||||
5 Julie | Wysheid/Wyn | 55 | ||||
7 Julie | Filosofiekafee | 27 | ||||
8 Julie | Privaatfunksie | 50 | ||||
12 Julie | Boekklub | 60 | ||||
26 Julie | Boekklub | 62 | ||||
28 Julie | Rolling Stones | |||||
29 Julie | Tangerine | |||||
AUGUSTUS | ||||||
3 Augustus | Wysheid/Wyn | 47 | ||||
4 Augustus | PhillipMoolman | 41 | ||||
5 Augustus | Boekklub | 50 | ||||
9 Augustus | Nadine | 47 | ||||
12 Augustus | Rikku Latti | 42 | ||||
18 Augustus | Leonard Cohen | 35 | ||||
26 Augustus | DewaldDippenaar | 21 | ||||
30 Augustus | Boekklub | 60 | ||||
SEPTEMBER | ||||||
2de September | Elton John | 44 | ||||
6de September | Wysheid/Wyn | 56 | ||||
8de September | Ellie | 30 | ||||
9de September | Elvis | 46 | ||||
14de September | Amoré Bekker | 92 | ||||
15/16 September | Tuin van Digters | |||||
27ste September | Boekklub | 61 | ||||
OKTOBER | ||||||
4 Oktober | Wysheid en Wyn | 46 | ||||
6 Oktober | Eric Clapton | 53 | ||||
11 Oktober | Boekklub | 65 | ||||
18 Oktober | Boekklub | 72 | ||||
25 Oktober | Boekklub | 69 | ||||
29 Oktober | Casper de Vries | 84 | ||||
31 Oktober | Dis my Ding | 54 | ||||
NOVEMBER | ||||||
1ste November | Wysheid en Wyn | 54 | ||||
4de November | Neil Diamond | 62 | ||||
8ste November | Boekklub | 70 | ||||
11de November | ABBA | 112 | ||||
18de November | CatStevens/Smokie | 63 | ||||
22ste November | Boekklub | 114 | ||||
25ste November | Orwellington | 57 | ||||
DESEMBER | ||||||
1/2/3 Desember | Dramagala-aand | 180 | ||||
4 Desember | Musiekskool | 70 | ||||
5 Desember | Boekklub | 120 | ||||
6 Desember | Wysheid en Wyn | 80 | ||||
7 Desember | Privaatfunksie | 120 | ||||
8 Desember | Valiant Swart | |||||
9 Desember | Privaatfunksie | 40 | ||||
16 Desember | Troue | 120 | ||||
Gaste vir 2022 | 4796 | |||||
Gaste vir 2023 | 4871 | |||||
Jeannine du Frene
Bestuurder
6. Musiekopleiding
Ek bied reeds drie jaar musiekklasse by die Breytenbach Sentrum aan. Hierdie jaar is begin met 15 aktiewe studente en daar is afgesluit met 25 aktiewe studente.
Ek het op die oomblik 12 kitaarstudente, 12 vir klavier en 1 vir baskitaar. Daar is nog nie enige belangstelling van die gemeenskap ontvang vir viool, blokfluit en dwarsfluit nie. Hopelik sal in 2024 meer instrumente aangebied kan word.
Weekliks word gemiddeld 17 lesse aangebied, afhangende van skoolkinders se skoolaktiwiteite en eksamens. Twaalf van die studente kon hierdie jaar deelneem aan die Tuin van Digters wat in September plaasgevind het. Ek fokus op tradisionele musiek van verskeie lande, kerkmusiek, jazz, Afrikaanse musiek en klassieke musiek.
Die meerderheid van my studente is tussen 6 en 14 jaar oud. Daar is ook volwassenes in hul twintigs tot veertigs wat lesse by my neem.
Ek beoog om my klassieke musiekstudente in te skryf vir die Trinity-eksamens wat in die middel van die jaar en aan die einde van die jaar in Stellenbosch plaasvind. Ek beplan ook dalk `n familiekonsert vir die studente.
Laastens wil ek ook dankie sê aan mnr. Louis Duvenage vir die kitare wat hy aan my geleen het, vir Esther Kotzé vir die musiekboeke, die Breytenbach Sentrum vir die geleentheid en al die bydraes van almal om hierdie geleentheid vir my moontlik te maak. Baie dankie ook aan Jessica Ruiters en al my medekollegas.
Dankie vir die jaar julle…..
Alles van die beste.
Vriendelike groete
Curtus van Kerwel
7. Dis my ding, Wellington
Die “Dis my ding, Wellington”-gespreksreeks is vroeër vanjaar van stapel gestuur. Dit wil die kollig plaas op Wellingtonners se passies en projekte, en gee hulle kans om te gesels oor hul kreatiewe idees, hartsgoed of stokperdjies.
Twee geleenthede is reeds aangebied. Dit word bestuur deur Engela Duvenage (as vrywilliger) met ondersteuning van Jessica Ruiters. Met die eerste geleentheid het die drie aanvanklike stigterslede van die Breytenbachlede, Eugenie Wiggens, dr. Manie Rust en Johan Conradie, vertel oor die werk wat agter die skerms ingegaan het om die Sentrum op die been te bring.
In Oktober was akteur Chris van Niekerk (wat vanjaar ‘n SA Akademie vir Wetenskap en Kuns-prys gewen het) en Curtus van Kerwel (wat musiek aanbied by die Sentrum) aan die beurt. Dankie aan die borge wat die gratis aanbied daarvan moontlik gemaak het.
8. Hoopprojek: Weltevrede Sekondêr
Breytenbach Kultuursentrum het vir baie leerders `n “stem” gegee en `n “stem” geword om oor aktuele onderwerpe te skryf wat taboe is om oor te praat in ons samelewing.
Deur die Hoopprojek het leerders wie nie deur die skool beskou sal word as “begaaf” of “bo-gemiddeld”nie, `n liefde laat ontwikkel om te skryf oor die onderwerpe wat swaar op hulle harte lê. Sodoende kan hulle uiting gee aan dit wat vir hulle belangrik is en waaroor ander mense nie wil praat nie.
Daarom kan ons net baie dankie sê vir die geleenthede wat vir ons leerders geskep word, danksy Breytenbach Kultuursentrum.
Groete
Ashlene Ayford
Weltevrede Sekondêr
9. Koffie@Breytenbach
Die koffieplek poog om `n huislike atmosfeer te skep.
Ek is vanaf 1 Desember 2022 betrokke by die Koffie@Breytenbach Sentrum.
Die Koffie@Breytenbach Sentrum bied koffie, tee en soetgoed asook daaglikse etes wat bekostigbaar is. `n Whatsapp-groep is gestig, waar gelees kan word watter etes daagliks gemaak word. Bestellings word gedoen volgens die kliënte se behoeftes. Klein intieme funksies word deurlopend aangebied vir plus minus 30-40 persone, volgens hulle begroting.
Die Koffie@Breytenbach Sentrum skep `n atmosfeer van rustigheid en ontspanning.
Met dank
Groete
Gerhard van Aardt