Burvrou en die gawe gedigte van langsaan
Folkgroep “Buurvrou” op Tuin van Digters se verhoog
Akteurspaar Carla Smith en Beer Adriaanse, en hul vriende, broer en suster Nienke en Luka Geldenhuys, bring hul nuwe Afrikaanse folkgroep, Buurvrou, Vrydagaand na die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington. Hulle beloof om hul eie, aardse liedjies te vermeng met voorlesings van bekende, gewilde en selfs vergete gedigte.
Hul optrede vind in die ATKV Akkoordtent plaas, ‘n klipgooi weg van die Sentrum se Digterstuin vol poësie en lenteblomme – en die inspirasie agter die fees se naam.
Die konsep agter Buurvrou het hoeka in ‘n ander groen spasie uitgebroei – die Tuine-woonbuurt in die Kaap. Dis waar Carla en Beer al geruime tyd woon, en Nienke ‘n jaar of wat gelede hul buurvrou geword het. Carla en die Geldenhuyse ken mekaar al van hul kinderdae in Durbanville af. Daarom was oor-en-weer kuiers gou aan die orde van die dag/nag – en dikwels was musiek saam maak deel van die pakkie. Einde verlede jaar het Beer en Luka begin saamspeel, aanvanklik vir die pret.
“Toe besef ons dat ons twee wonderlike sangers tot ons beskikking het. Dit het bietjie oortuiging gekos, maar toe Carla en Nienke instem was dit asof die legkaart dadelik in plek geval het,” vertel Beer. “Oor hoekom dit spesifiek ons vier moet wees kan ons bloot sê dis ‘n gevoel en tans eer ons daai gevoel.”
Na ‘n eerste optrede by ‘n vriend se kunsmark einde verlede jaar het die groep reeds vier akoestiese video’s op YouTube bekend gestel, met “Universiteit” die mees onlangse. Die viertal skryf om die beurt die musiek vir “Buurvrou”.
“Hoe dit gewoonlik werk is dat iemand met ‘n raamwerk of ‘n idee opdaag, en dan takel ons dit saam grond toe,” vertel Beer, ‘n bekende gesig op die kassie, ‘n eertydse lid van die band Zinkplaat en tans te sien in die nuwe kinderfliek “Silas en die ysbeer op Tafelberg”. Carla speel tans in die fliek “Landmyn”, wat net soos “Silas” heelwat toekennings by die onlangse Silwerskermfees gewen het. Nienke bedryf nienkaapstad.com, ‘n aanlynplatform vir handgemaakte “kooigoed” en “sitgoed”, of te wel beddegoed en kussingsoortreksels, en Luka is ‘n sagteware-ontwikkelaar.
Oor hul optrede Vrydagaand by die Tuin van Digters, en die byvoeging van spesifieke gedigte daarmee saam, sê Beer: “Goeie gedigte is soos om na ‘n baie deftige restaurant toe te gaan en ‘n klomp tapas te eet wat een lekkerder as die vorige een proe, en jou smaakkliere se grense verskuif. Behalwe dit voed nie jou maag nie, maar jou siel. As ‘n nuwe groep wat liedjies probeer skryf is dit geweldig inspirerend om te sien hoe baie ‘n enkele gedig kan kommunikeer, en op hoeveel vlakke.
Hy sê hulle is in die saamstel van die program telkens getref deur die misterie agter poësie, asook die toewyding wat nodig is om aan te hou skaaf tot net die ‘waarste’ woorde oorbly.
- “Buurvrou en die gawe gedigte van langsaan” gebeur op Vrydag 11 September 2026 om 21:00 in die ATKV Akkoordtent.
Dit word om 20:00 voorafgegaan deur “Gewone woorde”, waarin Laurinda Hofmeyr nuwe toonsettings van gedigte sal sing, met begeleiding deur Kevin Gibson en Schalk Joubert.
Saterdag 12 September se musikale hoogtepunte sluit in:
- Mense-mense, 14:15: Die ATKV Taalgenoot Ruk-en-Rym-wenner Magé Troskie se liedjies en stories sal vermeng word deur voorlesings van bekende mens-gedigte deur aktrise en skrywer Miché van Wyk.
- Oopmond + oopkop: Nuwe woorde en musiek word daar en dan geskep deur ‘n span digters en musikante. Vanjaar se musikante is Hanru Niemand en Deon Meiring, met Danie Marais, Toast Coetzer, Anna-Bet Stemmet, Andries de Beer en Churchill Naude wat as digters hul spoed met woorde sal oefen. Henry Cloete tree as skeidsregter op.
- Laataand: Nick Turner, Jannie “Hanepoot” van Tonder en kie sal die musiek maak vir die afsluitingspartytjie.
Foto: Die viertal agter “Buurvrou” is Beer Adriaanse, Nienke Geldenhuys, Luca Geldenhuys en Carla Smith. Foto: Buurvrou-argiewe
Hambidge word by Tuin van Digters-fees gehuldig
Feestema van “Menswaardig” aangekondig
Digter, skrywer, resensent, essais en akademikus prof. Joan Hambidge word vanjaar by die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington gehuldig. Die fees, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, word van 11 tot 12 September 2026 rondom die tema “Menswaardig” gehou.
“Dis ‘n voorreg om prof. Hambidge se verrykende betrokkenheid op soveel terreine van die Afrikaanse digkuns en letterkunde in die kollig te mag plaas. Daarby word sy 70 jaar oud op 11 September vanjaar, toevallig maar baie gepas op die eerste dag van die Tuin van Digters-fees,” vertel André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum.
As deel van die huldigingsprogram sal daar onder meer toonsettings van Hambidge se gedigte gehoor kan word. Prof Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg sal die huldigingsrede lewer.
Haar oeuvre strek oor by die 40 publikasies, beginnende met die bundel “Hartskrif” waarmee sy in 1985 gedebuteer het. Dit sluit ook vier romans en die eerste internet-roman in Afrikaans (“Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het”, in 2001) in. Sy het onder meer die Eugene Marais-prys vir haar tweede bundel, “Bitterlemoene” (1986) ontvang, en is vroeër vanjaar vir die Hertzogprys benoem vir haar mees onlangse bundel “Asindeton” (2025).
Prof. Hambidge se akademiese loopbaan het in 1980 as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde begin, waarna sy in 1992 by die Universiteit van Kaapstad aangesluit het. Daar het sy onder meer ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aangebied as professor in Afrikaanse taal en letterkunde, en is aangestel as genoot van die Hofmeyr-leerstoel. Sy het in 2021 afgetree.
Die keuse van “Menswaardig” as vanjaar se feestema, saam met die subtema van “100% handgemaak” is doelbewus “pro-mens” te midde van die kunsmatige intelligensie revolusie. So sê Bibi Slippers, wat vanjaar vir die eerste keer vir die Tuin van Digters-program verantwoordelik is.
“Deur gesprekke en ander aanbiedings sal vrae gevra word wat ons denke stimuleer oor wat dit beteken om mens te wees, en hoe digkuns hierdie unieke menslikheid uitdruk en help vorm,” sê sy.
Slippers verduidelik dat daar verskeie betekenisse binne die woord “Menswaardig” opgesluit is, wat met vrug ontgin kan word. “Mens” vier alles rondom menslikheid; “waar” spreek tot die strewe en verbintenis tot waarheid, “waardig” dui op die waarde van die geskrewe woord en hoe dit ons tyd en aandag waardig is.
“En dan natuurlik “dig”, die digkuns, waaroor die hele fees gaan,” voeg sy by. “Die subtema van “Handgemaak” dui op beliggaamdheid, en die feit dat ons as mense liggame het wat dinge sintuiglik ervaar, en ook ons liggame gebruik om kuns te skep.”
Onder die hoogtepunte op die program is die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys. Die prys word beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Vanjaar sal ‘n Engelse digter bekroon word. Benewens die huldigingsprogram aan dr. Hambidge is gesprekke met twee Hertzogpryswenners, Johan Myburg en Tom Dreyer, oor hul jongste bundels reeds bevestig. Daarby sal die Mengelmoesdigters, wat onder leiding van wyle Diana Ferrus ontstaan het, ‘n groepsvoorstelling van gedigte onder die tema “Die stoel langsaan” aanbied rondom temas van herinnering en nalatenskap, behoort en verlies, en die voortbestaan van stemme binne ‘n gemeenskap.
Die volledige program word in Julie vrygestel.
Ter agtergrond:
- Die eerste Tuin van Digters-fees het in 2012 plaasgevind. Die feesdatum val gewoonlik rondom die geboortedatum van die digter Breyten Breytenbach, wie se familie eens die geboue besit het waarbinne die Breytenbach Sentrum ‘n tuiste het.
- Die 2026-program word saamgestel deur Bibi Slippers, wat vroëer vanjaar vir die Hertzogprys genomineer is vir haar bundel Soekenjin.
- Bevestigde ondersteuning vir die Tuin van Digters-fees is reeds ontvang vanaf die Dagbreek Trust (hoofborg), die ATKV en Jonathan Ball Publishing.
- Die volledige program sal teen Julie 2026 bekend gestel word. Kaartjies is te koop deur Quicket: https://qkt.io/JUU6by
- Vir algemene navrae, ook oor verblyfopsies, kontak info@breytenbachsentrum.co.za
Oor die Breytenbachsentrum:
Die Breytenbachsentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre, nie-winsgewende kultuursentrum waar ’n wye reeks literêre, visuele, opvoedkundige, musikale, erfenis- en gemeenskapsprojekte deurlopend aangebied word. Dit bied ruimte vir omgang met beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns vir die mense van Wellington en omstreke.
www.breytenbachsentrum.co.za of info@breytenbachsentrum.co.za