Covid-19 stuit nie Sentrum se skryfskool

Die Coronavirus wat Suid-Afrika en groot dele van die wêreld feitlik tot stilstand geruk het, kon nie keer dat die Breytenbach Sentrum in Wellington se Afrikaanse prosa skryfskool, wat die afgelope drie jaar deur die Jannie Mouton geborg word, voortgaan nie.

Al dertien studente van vanjaar se skryfskool, wat vir die vyfde jaar deur die bekroonde Rachelle Greeff aangebied word, het Saterdag 4 April per Skype met haar vergader. Daarna ook in Mei, Junie en Julie voordat hulle in Augustus onder streng veiligheismaatreëls by die Sentrum bymekaargekom het.

Die skryfskool vind oor tien maande plaas. Greeff en haar studente het gewoonlik elke eerste Saterdag van die maand ’n gespreksessie by die Breytenbach Sentrum in Wellington.

Francois Lötter, uitvoerende direksielid van die Sentrum, sê Greeff het ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die nasionale inperking van 21 dae saam met die studente besluit om virtueel voort te gaan met April se sessie, elkeen vanuit haar of sy inperkingsblyplek.

Greeff sê dit was ’n eerste en is verskeie opsies oorweeg. Daar is uiteindelik op Skype besluit en hoewel daar hier en daar tegniese haakplekke was, het alles goed en suksesvol verloop.

Volgens Lötter word die kursus oor tien maande aangebied om voldoende ontwikkelingstyd te gee vir opkomende skrywers wat ernstig is om hul skryfvaardighede te ontwikkel en publiseerbaar te kry.

“Hoewel Greeff en die studente gereeld per epos individuele kontak met mekaar het, bestaan die maandelikse byeenkomste uit praktiese werk- en besprekingsessies.

“Die sessies word aangevul deur genooide gassprekers soos uitgewers, gevestigde skrywers, joernaliste en boekhandelaars wat oor die verskeie aspekte van die skryfproses en boekebedryf gesels.”

Van die gepubliseerde skrywers van boeke wat al die skryfskool bygewoon het, sluit in Irna van Zyl, skrywer van verskeie misdaadboeke, Lize Albertyn-du Toit, wie in 2019 met Die kinders van spookwerwe gedebuteer het, Jean-Pierre de Kock met Die daggaboer, en Willem Krog, wie se roman, Alleen onder die maan, pas verskyn het. ’n Debuutbundel Afrikaanse kortverhale van nog ’n oudstudent, Brian Fredericks, verskyn vanjaar met die titel Green Eyes.

Op die foto is Rachelle regs onder op die skerm tydens die Skype-aanbieding. Langs haar is Henri Retief en bo is Arrie de Beer en Lynette van Rensburg. Marinne Vorster-Meyer, een van 2020 se skryfstudente, het die skermgreep gestuur.