DERTIENDE TUIN VAN DIGTERS OP 13 EN 14 SEPTEMBER 2024 BY BREYTENBACH SENTRUM IN WELLINGTON
VIER INGRID JONKER SAAMSAAM BY VANJAAR SE TUIN VAN DIGTERS-FEES OP 13 EN 14 SEPTEMBER IN WELLINGTON
Kom bymekaar om saamsaam by mekaar te leer en mekaar anders te maak by vanjaar se 13de Tuin van Digters-digfees op Vrydag 13 en Saterdag 14 September in die geboue en digterstuin van die Breytenbach Sentrum in Wellington.
Ingrid Jonker is die digter wat vanjaar by die samekoms postuum gehuldig sal word. Sy sou nou 90 jaar oud gewees het en haar 91ste verjaardag op 19 September gevier het.
Die huldiging Vrydagaand 13 September sluit in ’n roerende aangepaste huldigingsvideo deur Petrovna Metelerkamp, Ingrid Jonker – Wêreldwyd, oor die lewe en nalatenskap van Jonker en oor haar gedigte. Ingrid praat onder meer ook oor haar lewe en lees van haar gedigte voor.
Dit sal voorafgegaan word met die sing van toonsettings van gedigte van Ingrid deur ‘n jong Ingrid-liefhebber, Ilana de Vlakte van die Kalahari. Die huldigingsaand sal afgesluit word met ’n spesiale woordkunsprogram, Ontvlugting & Tussen bloeisels, met die sopraan Elizabeth Marais en die bas-bariton Corniël Calitz, wat van Ingrid sowel as Breyten Breytenbach se gedigte sal sing, met klavierbegeleiding deur Lara Kirsten.
Die feesuitstalling vanjaar is Str(a)y deur Elizabeth Gunter in die Breytenbach Galery en ’n foto-uitstalling In die Skeppende Oomblik deur wyle Paul Alberts in die Cloete Gemeenskapsgalery. Prof. Stella Viljoen, mede-professor in Visuele Studies by die Universiteit Stellenbosch open die utistalling Vrydagaand.
Die mens/dier se saamweesverhouding dien as ’n onderwerp in Gunter se kuns wat hoofsaaklik tekenkuns behels. Alberts het hom met sy foto’s daaraan toegewy om die groot geeste van Suid-Afrikaanse kuns in hul skeppende oomblikke in die sewentiger- en tagtigerjare te dokumenteer. Die uitstalling is saamgestel deur sy weduwee Charmainé Alberts en gee ‘n dinamiese oorsig van die kultuurbedryf destyds.
Die pianis en musiekkunstenaar Rocco de Villiers sorg die Saterdag vir ’n spesiale musiekoptrede voor die klavier en lees voor uit sy digbundel, Die Eiesoortiges.
‘n Ander besondere musiekoptrede is deur Frieda van den Heever. Sy sorg vir ‘n unieke ervaring met haar eie toonsettings wat opgeneem is in haar gevierde debuutalbum Spoorsny, sowel as toonsettings van gedigte van Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach en ander Afrikaanse digters.
Buiten die oorhandiging Saterdagaand van die Ingrid Jonker-prys aan vanjaar se wenner van die beste debuut-digbundel, is daar ook verskeie ander hoogtepunte om na uit te sien:
- ‘n Paneelbespreking aangebied deur PEN Afrikaans waar prof. Andries Visagie as fasiliteerder, saam met die digters Martina Klopper, Jolyn Phillips en Bibi Slippers, die feestema saamsaam belig, met verwysing na die saambestaan van mens en natuur, en mens en masjien, en hoe dit in die digkuns neerslag vind.
- ‘n Gesprek deur prof. Alwyn Roux met afgetrede prof. Louise Viljoen oor die heruitgawe van Ingrid Jonker se versamelde gedigte, Die papie roer en ek word digter. Viljoen het ‘n omvattende inleiding geskryf waarin sy die fokus plaas op Jonker, en nie haar lewensverhaal nie.
- Die Nederlandse digters Joost Oomen en Simone Atangana Bekone, wat op uitnodiging van die Kaapse Forum Neerlandistiek in Suid-Afrika is om deel te neem aan die Neerlandistiekdag, lees van hulle gedigte.
- Die bekendstelling van Ons Klyntji, die alternatiewe, veeltalige zine met gedigte, kortverhale, fotografie en strokiesprente, aangebied deur Toast Coetzer.
- ‘n Gesprek tussen die protesdigter Diana Ferrus en die digter en skrywer Gaireyah Fredericks oor Fredericks se jongste publikasie, Een voet innie kabr, asook oor haar loopbaan.
- Afrikaanse leerders van die Weltevrede Sekondêre Skool in Wellington dra gedigte voor oor hulle leefwêreld.
- Gesprekke deur Alwyn Roux, Daniel Hugo en Bernard Odendaal met digters Lynthia Julius (Kinderlê) Jan Pretorius (Stil gesprek), Rudolph Willemse (Swartland), Jaco Barnard-Naudé (Om my kastele in Spanje te sloop), André le Roux (Liefde en verset) en Hennie Nortjé (Noord van Malelane).
- Danie Marais, ‘n vorige wenner van die Ingrid Jonker-prys vir ‘n debuutbundel, en die sanger en liedjieskrywer Riku Lätti, praat saam oor mekaar se jongste digbundels, Marais se ek en jy bestaan nie en Lätti se Taboek.
- ‘n Poësie-musiekproduksie, “Rafel”, wat as ‘n tapyt van woord en klank gespin is en die rou, fyn uitgewerkte verse uit Andries de Beer se bundel AALMOES vir die bootman kombineer.
- Die gewilde oop verhoog aangebied deur die jeugdireksie van die Breytenbach Sentrum waar oud en jonk hulle gedigte kan voorlees.
- ‘n Boekstalletjie waar digbundels en ander boeke gekoop kan word.
- Gesellige saamwees in “Die Tuiste van die Afrikaanse digkuns” met digters en liefhebbers van Afrikaanse digkuns.
- ‘n Afsluitingskonsert met gedigtoonsettings en ruk en rol wat die voete sal laat jeuk deur Willim Welsyn en die Sunrise Toffees.
Francois Lötter, die agtste jaar die hooforganiseeder en -samesteller van Tuin van Digters se program, sê daar is in samewerking met Breyten Breytenbach besluit op saamsaam as die tema van vanjaar se digfees.
Breyten het in sy afsluitingstoespraak by verlede jaar se Tuin van Digters gesê: “Ons is ’n weerspieëling van wat die geskiedenis van ons gemaak het … en hoe ons mekaar mismaak het met die geskiedenis as verskoning. Punt is egter: Ons gee wragtag nie toe dat ons so gemaak en laat staan is nie. Want hierdie is ‘n ruimte vir hibridisering en méér: vir saam-mekaarandersmaak.”
By verlede jaar se digfees het prof. Louis Viljoen ook met die digter Klara du Plessis, wat in Kanada woon, gesels oor haar derde digbundel met die naam G, wat sy saam met die Iranees-gebore digter Kashayar “Kess” Mohammadi geskryf het. Viljoen het daarna in ’n resensie oor die bundel geskryf G “is die soort bundel wat hopelik ook digters in die Suid-Afrikaanse taalomgewing tot soortgelyke samewerkings en interaksies sal inspireer.”
Kaartjies vir Tuin van Digters 2024 kan gekoop word by Quicket by https://qkt.io/PInelB. Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag 13 September (alle programitems ingesluit), R250 per volwassene vir Saterdag 14 September (alle programitems ingesluit), R300 per volwassene vir ‘n naweekkaartjie, R100 per student vir ‘n naweekkaartjie en R50 per dag vir kinders onder 16.
Tuin van Digters word weer in samewerking met NB-Uitgewers moontlik gemaak danksy ’n ruim bydrae van die Dagbreek Trust. Die tentborg is die ATKV (ATKV Akkoordtent).
Die volledige programbesonderhede is op die webwerf by www.breytenbachsentrum.co.za beskikbaar. Besoek ook die Breytenbach Sentrum se Facebookblad en Instagram vir deurlopende inligting oor die programdeelnemers.