GESOEK: #WaagsoosGracie VIR DIE BREYTENBACH SENTRUM
GESOEK: #WaagsoosGracie VIR DIE BREYTENBACH SENTRUM
’n Huldeblyk aan Gracie Mulder Breytenbach Botha (c.2015 – 17 Januarie 2021)
WAGHOND
Die jaar toe Covid ons bestaan kom deurmekaar gooi het, is ook die jaar toe ek die werklike betekenis van die woord waghond leer ken het. Wie die bangste was toe ons mekaar die eerste keer ontmoet het, weet ek nie. Ek, die een wat 20 jaar laas verlief was op ‘n hond. Sy, die een wat al te veel kere seergekry het. Boonop het ek glad nie geweet hóé om ‘n skamerige, vuilerige hond te léér ken nie. Een wat my ook glad nie vertrou het nie. Maar die Breytenbach Sentrum was ons albei se tuiste … veral wanneer almal huis-toe gaan en net ek en my tesis tussen haar binne-lêplek óf uitgooi by die deur kom staan.
Sy het my al hoe meer gereeld kom help tesis skryf. En ek het al hoe meer begin uitsien na ons samesyn. Al het enige harde geluid haar vreesbevange gemaak, het haar jakkalsbakore niks gemis nie … veral nie die oopmaak van ‘n pakkie beskuit nie! Voor ons ons kom kry, het ons bangwees in braafwees verander – en was dit nie net sy wat kom bedel het nie, maar ook my nog-steeds-bang-vir-‘n-vuil-lyf-hand wat haar telkens langer en liewer wou streel. Met haar al-hoe-minder-bang-bokkie-oë wat daarvoor wag. Want Gracie was immers die sentrum se wághond.
Waghond s.nw. “wag vir liefde en om liefde te gee” volgens die sentrum se Facebook-blad. “Onvoorwaardelik” voeg ek graag by.
RONDLOPERHOND
Rondloperhond s.nw. loop só rond dat die hele dorp jou leer ken (en natuurlik voer en liefkry!)
Die koeël was egter regtig deur die kerk toe ons dit eendag vir die eerste keer saam buite die sentrum waag, met ‘n splinternuwe halsband en naamplaatjie. Eers net om die blok. En toe verder.
“O, is dit jou hond?” moes ek telkemale hoor, “sy kom kuier gereeld hier”. Iets wat vele mense van die buurt op die sentrum se Facebook-blad beaam op ‘n plasing oor Gracie, die sentrumhond. Want Gracie was lief vir rondloop.
En toe gaan stap ons om die Perdeskoen. En dis hoe ons besties geraak het.
DRAFHOND
Nie almal is taf genoeg vir die Perdeskoen se sowat 7km nie. Selfs nie eers onfikserige ek eintlik nie. Maar Gracie was in haar element.
Kielie het haar ook gelukkig gemaak. Ná sy my uiteindelik toegelaat het om orals aan haar te vat. Ná ek myself uiteindelik veroorloof het om ‘n bitter vuil hond te liefkoos. Maar niks het Gracie so gelukkig gemaak soos draf nie. Met of sonder halsband. Vry! ‘n Onverwagse byvoordeel was dat draf haar ook effens skoner gemaak het … toe ek uitvind dat haar vrees vir water verdwyn wanneer sy in ‘n plaasdam kon swem!
Drafhond s.nw. Mens. Dier. Natuur. Een. Ekstase. Euforie. Enig.
My eerste drafhondmaat ooit. Gracie, ek mis jou.
SENTRUMHOND
Gracie was álmal se hond: Charles en Lizet wat haar in die eerste plek ‘n kans gegun het om nie nét ‘n rondloperhond te wees nie. Francois wat my en vele ander se vriendskap met Gracie moontlik gemaak het. Tryomore en sy gesin van wie Gracie ook deel kon wees. Bokkie en familie wat vir meer as net kos gesorg het. Jessica, veral vir die blou bank, en almal wat vir Gracie en al haar gunstelinglêplekke gesorg het. Esther en Kobie vir Gracie se leeshoekie en beskuitjies en boekwinkelmaats. Chris en Sweetie Pie vir julle omgee. Anne-Ghrett en Ampie en Kobus vir altyd-daar-wees. Kosie, Yolanda, Danielle, Alma, Banna, Jeannine, Janette, Azhir, Fahema en almal wat Gracie se manewales in van die jogaklas tot die teater toegelaat het.
Dankie aan álmal wat gewag en gewaag het vir Gracie se liefde.
WAAGHOND
Ek vind troos daarin dat Gracie nie net vir baie mense wonderlike oomblikke laat beleef het nie – lees Koos Kombuis se storie oor Gracie hier – maar dat ons ook háár lewe soveel beter gemaak het, haar werklik gelukkig gemaak het, al kon dit nie vir ewig wees nie.
Dit herinner my aan Douwleen Bredenhann se seer vraag of geluk nie dalk nét in klein grepies bestaan wat in kortstondige oomblikke vasgevang word nie en dat ons dalk moet leer om dit te onderskei en na waarde te skat. Onlangs gesels ek en ‘n kollega oor ons land se droewe stand van korrupsie-kultuur en oor hoe om jong mense binne so ‘n omgewing te inspireer om nie daardeur ingeperk te word nie. Sy vertel dat sy daagliks beleef hoe sommige mense iets kleins doen om die wêreld vir iemand anders ‘n beter plek te maak en ek besef dit is die antwoord … want ek glo vas een van die min aanvaarbare en suksesvolle indoktrinasies van my jeug was “zip dit in die Ziebie-blik” – om te leer om óm te gee vir jou omgewing en ‘n voorbeeld te stel.
Ons kan kwaad en hartseer wees oor die verval, ook op Wellington, en oor Gracie wat versmoor het in ‘n plastiekhouer. Of ons kan almal saamstaan en ‘n voorbeeld stel en saamwerk en die sentrum en sy digterstuin en Burgerstraat en ook die biblioteek en die polisiestasie en die universiteit en die dorp ‘n beter plek maak. Die sentrum het egter jou hulp nodig om dit te kan doen. So, as jy nog nooit die Breytenbach Sentrum besoek het nie, #waagsoosGracie, jy sal nie spyt wees nie:
- Kom vind winskope én skaars boeke in die beste tweedehandse boekwinkel ooit, The Book Traders; geniet smul-appeltertjies en bekostigbare middagetes by Koffie@Breytenbach; verkyk jou aan Breytenbach Galery kurator Anne-Ghrett se keurige uitstallings en koop geskenke in haar unieke galerywinkel; beleef gedigte op mure en glase en veel #meerdigdinkisnodig in die Digterstuin; of woon ‘n vertoning binne of buite die Bôrdienghuis Teater by (daar is ook pizza en natuurlik wyn uit die Boland).
- Besoek die Breytenbach Sentrum by Burgerstraat 14, Wellington of kontak hulle by 021 873 2786 of info@breytenbachsentrum.co.za. Besoek ook breytenbachsentrum.co.za of volg die Breytenbach Sentrum op Facebook en Instagram.
#gracieliefde, Isabeau
Ns. My tesis is IN. Dankie, Gracie.