Ons Klyntji
Ons Klyntji: Klein boekie met groot impak
Die 130ste jaargang van “Ons Klyntji” is beslis ‘n lekker ronde getal om te vier, en ja, die positiewe terugvoer jaarliks oor die inhoud van die zine is ook goed om te hoor. Die grootste plesier wat hy egter uit elke nuwe uitgawe kry is om te sien hoedat ontluikende, dikwels haas onbekende digters daardeur kans kry om hul name saam met dié van legendes in die lange inhoudsopgawe te sien. So vertel joernalis Toast Coetzer, een van die gereelde redakteurs van dié monochroom broeksak-grote publikasie met heelwat oemf.
“Ek wil vanjaar vier dat ons steeds die één plek is waar jy skrywers, hetsy ervare of onervare, nuut in die ‘game’ of ‘n gesoute hand, saam tussen die blaaie sal kry. Dis vir my lekker om deel te wees van so iets,” sê hy.
Die 2026-uitgawe bevat die bydraes van meer as 110 deelnemers wat uit honderde gedigte, kortverhale, sketse en foto’s gekies is. Die voorblad is ontwerp deur Paula Kruger, met Lara-Louise Venter wat met die uitleg gehelp het. Dit word deels befonds deur die LW Hiemstra Trust, en gepubliseer in samewerking met die oorkoepelende Klyntji-inisiatief.
“Vir heelwat mense is dit die eerste keer dat een van hul gedigte in ‘n bundel ingesluit word. Vanjaar het ons ook weer eens ‘n lekker mengsel van gevestigde skrywers wie se werk jarelange aanhangers amper al verwag wanneer hulle ‘n ‘Ons Klyntji’ oopslaan. Dit sluit name soos Sjaka S. Septembir in, wat al sedert die publikasie se 1990’s Koos Kombuis-era bydraes lewer, asook gevestigde digters soos Danie Marais en meer onlangs ook Tom Dreyer.”
Sowat ‘n 1000 word gedruk en versprei by feeste, onder digters wie se werk daarin verskyn, en by deelnemende boekhandelaars.
Dit is nou lank reeds tradisie dat die zine by die Breytenbach Sentrum op Wellington se Tuin van Digters-feesnaweek die eerste keer die lig sien. Ter viering van die 130ste jaargang, Saterdagaand 12 September, sal Coetzer en mede-redakteur Erns Grundling spesiaal terugblaai deur die argiewe en voorlees uit van hul gunsteling uitgawes sedert die tyd wat Koos Kombuis die redakteur was, tot nou.
“Dit bly ‘n hoogtepunte elke jaar om by die Tuin van Digters te staan met die boekie in die hand, te luister na heelwat van die bydraers op die verhoog, en te sien hoe mense dit geniet!” sê Coetzer.
Die zine word deur ‘n span vrywilligers saamgestel, onder wie Joe Botha as redakteur, en Jaco du Plooy, Andréa Müller, Rebecca Kahn, Elodi Troskie, Elzanne Coetzee, Natasha Harmse, Leanne Rencken en Willow Ruby as bydraende redakteurs.
Coetzer verklap dat dit dikwels ‘n redelike gespook afgee om die keuring, redigering en uitleg alles betyds klaar te maak voor die eerste bekendstelling. Soms het dit al gebeur dat hulle eers op die dag van die fees self die eerste keer ‘n gedrukte kopie onder oë het. Tog bly dié spanpoging elke keer die spanning, laat nagte en die kort spertye werd.
“Vir my is die belangrikste die geleentheid wat ons span van sowat tien vrywilligers vir mense gee om te publiseer, en hul werk in druk te sien. Hul werk en woorde versprei onder die honderde, selfs duisende mense wat ‘n kopie daarvan lees,” sê Coetzer.
“Hierdie jaar se uitgawe sluit in ‘n foto van ‘n man wat ‘n baie groot sneeubal rol, ‘n skets van ‘n kat genaamd Grace Mugabe, ‘n kort-kortverhaal oor hoe dit moes gevoel het om Lot se vrou te wees, en miskien die eerste gedig ooit wat oor Vioolsdrift geskryf is. En ‘n gedig oor hoe Bart Simpson jou in 1990 uit die vaalheid van die Vrystaat kon red,” noem hy.

Foto: Die voorblad van die 2026 Ons Klyntji. Dis deur Paula Kruger ontwerp. Foto: Verskaf deur Ons Klyntji-span.

Foto: Ons Klyntji-digters wat hule gedigte tydens die 2025 Tuin van Digters voorgelees het.

Foto: Toast Coetzer, Tuin van Digters 2025
Hambidge word by Tuin van Digters-fees gehuldig
Feestema van “Menswaardig” aangekondig
Digter, skrywer, resensent, essais en akademikus prof. Joan Hambidge word vanjaar by die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington gehuldig. Die fees, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, word van 11 tot 12 September 2026 rondom die tema “Menswaardig” gehou.
“Dis ‘n voorreg om prof. Hambidge se verrykende betrokkenheid op soveel terreine van die Afrikaanse digkuns en letterkunde in die kollig te mag plaas. Daarby word sy 70 jaar oud op 11 September vanjaar, toevallig maar baie gepas op die eerste dag van die Tuin van Digters-fees,” vertel André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum.
As deel van die huldigingsprogram sal daar onder meer toonsettings van Hambidge se gedigte gehoor kan word. Prof Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg sal die huldigingsrede lewer.
Haar oeuvre strek oor by die 40 publikasies, beginnende met die bundel “Hartskrif” waarmee sy in 1985 gedebuteer het. Dit sluit ook vier romans en die eerste internet-roman in Afrikaans (“Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het”, in 2001) in. Sy het onder meer die Eugene Marais-prys vir haar tweede bundel, “Bitterlemoene” (1986) ontvang, en is vroeër vanjaar vir die Hertzogprys benoem vir haar mees onlangse bundel “Asindeton” (2025).
Prof. Hambidge se akademiese loopbaan het in 1980 as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde begin, waarna sy in 1992 by die Universiteit van Kaapstad aangesluit het. Daar het sy onder meer ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aangebied as professor in Afrikaanse taal en letterkunde, en is aangestel as genoot van die Hofmeyr-leerstoel. Sy het in 2021 afgetree.
Die keuse van “Menswaardig” as vanjaar se feestema, saam met die subtema van “100% handgemaak” is doelbewus “pro-mens” te midde van die kunsmatige intelligensie revolusie. So sê Bibi Slippers, wat vanjaar vir die eerste keer vir die Tuin van Digters-program verantwoordelik is.
“Deur gesprekke en ander aanbiedings sal vrae gevra word wat ons denke stimuleer oor wat dit beteken om mens te wees, en hoe digkuns hierdie unieke menslikheid uitdruk en help vorm,” sê sy.
Slippers verduidelik dat daar verskeie betekenisse binne die woord “Menswaardig” opgesluit is, wat met vrug ontgin kan word. “Mens” vier alles rondom menslikheid; “waar” spreek tot die strewe en verbintenis tot waarheid, “waardig” dui op die waarde van die geskrewe woord en hoe dit ons tyd en aandag waardig is.
“En dan natuurlik “dig”, die digkuns, waaroor die hele fees gaan,” voeg sy by. “Die subtema van “Handgemaak” dui op beliggaamdheid, en die feit dat ons as mense liggame het wat dinge sintuiglik ervaar, en ook ons liggame gebruik om kuns te skep.”
Onder die hoogtepunte op die program is die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys. Die prys word beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Vanjaar sal ‘n Engelse digter bekroon word. Benewens die huldigingsprogram aan dr. Hambidge is gesprekke met twee Hertzogpryswenners, Johan Myburg en Tom Dreyer, oor hul jongste bundels reeds bevestig. Daarby sal die Mengelmoesdigters, wat onder leiding van wyle Diana Ferrus ontstaan het, ‘n groepsvoorstelling van gedigte onder die tema “Die stoel langsaan” aanbied rondom temas van herinnering en nalatenskap, behoort en verlies, en die voortbestaan van stemme binne ‘n gemeenskap.
Die volledige program word in Julie vrygestel.
Ter agtergrond:
- Die eerste Tuin van Digters-fees het in 2012 plaasgevind. Die feesdatum val gewoonlik rondom die geboortedatum van die digter Breyten Breytenbach, wie se familie eens die geboue besit het waarbinne die Breytenbach Sentrum ‘n tuiste het.
- Die 2026-program word saamgestel deur Bibi Slippers, wat vroëer vanjaar vir die Hertzogprys genomineer is vir haar bundel Soekenjin.
- Bevestigde ondersteuning vir die Tuin van Digters-fees is reeds ontvang vanaf die Dagbreek Trust (hoofborg), die ATKV en Jonathan Ball Publishing.
- Die volledige program sal teen Julie 2026 bekend gestel word. Kaartjies is te koop deur Quicket: https://qkt.io/JUU6by
- Vir algemene navrae, ook oor verblyfopsies, kontak info@breytenbachsentrum.co.za
Oor die Breytenbachsentrum:
Die Breytenbachsentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre, nie-winsgewende kultuursentrum waar ’n wye reeks literêre, visuele, opvoedkundige, musikale, erfenis- en gemeenskapsprojekte deurlopend aangebied word. Dit bied ruimte vir omgang met beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns vir die mense van Wellington en omstreke.
www.breytenbachsentrum.co.za of info@breytenbachsentrum.co.za