Opkomende digters kan naam in hoed gooi vir digtersfees

Opkomende (en waagmoedig genoeg) digters kry weer vanjaar by die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington kans om hul stem te laat hoor. Die fees se immergewilde “open mic”-sessie vind op Saterdag 12 September om 13:00 plaas, met sanger en liriekskrywer Deon Meiring wat die program sal lei.

“By ‘n ‘open mic’ weet mens nooit wie jou gaan verras of verstom nie. Daar is altyd iets wat jou laat lag, of diep raak. Daar is beslis ‘n behoefte by mense om hul woorde gehoor te kry, en die fees is ‘n plek met ‘n waarderende gehoor vir daardie woorde,” vertel Meiring.

Vir hom vind dié sessie aanklank by vanjaar se feestema van “menswaardig” en “100% handgemaak”: “Dis lekker om gehoor te word tussen ander mense wat dapper genoeg is om vir die eerste keer, of vir die eerste keer in ‘n lang tyd, voor ‘n gehoor en met ‘n mikrofoon in die hand in lewende lywe hul eie menslike woorde voor te kan dra.”

Belangstellendes kan teen 4 September 2026 hul naam in die hoed gooi deur vir Meiring te epos by deonmeiringvideos@gmail.com of ‘n Whatsapp te stuur na 082 464 7897.

Leerlinge van plaaslike instellings op Wellington kry ook gedurende die Digdink-sessie van Saterdag 12 September om 10:00 kans om hul eie gedigte voor te dra. Onder leiding van Lindsey Bruintjies word leerders van Weltevrede Hoërskool, Wellington Hoërskool, Bergrivier Sekondêr, Hugenote Hoërskool en die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie sodoende betrek.

 

 

Hambidge word by Tuin van Digters-fees gehuldig

Feestema van “Menswaardig” aangekondig

Digter, skrywer, resensent, essais en akademikus prof. Joan Hambidge word vanjaar by die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington gehuldig. Die fees, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, word van 11 tot 12 September 2026 rondom die tema “Menswaardig” gehou.

“Dis ‘n voorreg om prof. Hambidge se verrykende betrokkenheid op soveel terreine van die Afrikaanse digkuns en letterkunde in die kollig te mag plaas. Daarby word sy 70 jaar oud op 11 September vanjaar, toevallig maar baie gepas op die eerste dag van die Tuin van Digters-fees,” vertel André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum.

As deel van die huldigingsprogram sal daar onder meer toonsettings van Hambidge se gedigte gehoor kan word. Prof Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg sal die huldigingsrede lewer.

Haar oeuvre strek oor by die 40 publikasies, beginnende met die bundel “Hartskrif” waarmee sy in 1985 gedebuteer het. Dit sluit ook vier romans en die eerste internet-roman in Afrikaans (“Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het”, in 2001) in. Sy het onder meer die Eugene Marais-prys vir haar tweede bundel, “Bitterlemoene” (1986) ontvang, en is vroeër vanjaar vir die Hertzogprys benoem vir haar mees onlangse bundel “Asindeton” (2025).

Prof. Hambidge se akademiese loopbaan het in 1980 as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde begin, waarna sy in 1992 by die Universiteit van Kaapstad aangesluit het. Daar het sy onder meer ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aangebied as professor in Afrikaanse taal en letterkunde, en is aangestel as genoot van die Hofmeyr-leerstoel. Sy het in 2021 afgetree.

Die keuse van “Menswaardig” as vanjaar se feestema, saam met die subtema van “100% handgemaak” is doelbewus “pro-mens” te midde van die kunsmatige intelligensie revolusie. So sê Bibi Slippers, wat vanjaar vir die eerste keer vir die Tuin van Digters-program verantwoordelik is.

“Deur gesprekke en ander aanbiedings sal vrae gevra word wat ons denke stimuleer oor wat dit beteken om mens te wees, en hoe digkuns hierdie unieke menslikheid uitdruk en help vorm,” sê sy.

Slippers verduidelik dat daar verskeie betekenisse binne die woord “Menswaardig” opgesluit is, wat met vrug ontgin kan word.  “Mens” vier alles rondom menslikheid; “waar” spreek tot die strewe en verbintenis tot waarheid, “waardig” dui op die waarde van die geskrewe woord en hoe dit ons tyd en aandag waardig is.

“En dan natuurlik “dig”, die digkuns, waaroor die hele fees gaan,” voeg sy by. “Die subtema van “Handgemaak” dui op beliggaamdheid, en die feit dat ons as mense liggame het wat dinge sintuiglik ervaar, en ook ons liggame gebruik om kuns te skep.”

Onder die hoogtepunte op die program is die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys. Die prys word beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Vanjaar sal ‘n Engelse digter bekroon word. Benewens die huldigingsprogram aan dr. Hambidge is gesprekke met twee Hertzogpryswenners, Johan Myburg en Tom Dreyer, oor hul jongste bundels reeds bevestig. Daarby sal die Mengelmoesdigters, wat onder leiding van wyle Diana Ferrus ontstaan het, ‘n groepsvoorstelling van gedigte onder die tema “Die stoel langsaan” aanbied rondom temas van herinnering en nalatenskap, behoort en verlies, en die voortbestaan van stemme binne ‘n gemeenskap.

Die volledige program word in Julie vrygestel.

 Ter agtergrond:

  • Die eerste Tuin van Digters-fees het in 2012 plaasgevind. Die feesdatum val gewoonlik rondom die geboortedatum van die digter Breyten Breytenbach, wie se familie eens die geboue besit het waarbinne die Breytenbach Sentrum ‘n tuiste het.
  • Die 2026-program word saamgestel deur Bibi Slippers, wat vroëer vanjaar vir die Hertzogprys genomineer is vir haar bundel Soekenjin.
  • Bevestigde ondersteuning vir die Tuin van Digters-fees is reeds ontvang vanaf die Dagbreek Trust (hoofborg), die ATKV en Jonathan Ball Publishing.
  • Die volledige program sal teen Julie 2026 bekend gestel word. Kaartjies is te koop deur Quicket: https://qkt.io/JUU6by
  • Vir algemene navrae, ook oor verblyfopsies, kontak info@breytenbachsentrum.co.za

 

Oor die Breytenbachsentrum:

Die Breytenbachsentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre, nie-winsgewende kultuursentrum waar ’n wye reeks literêre, visuele, opvoedkundige, musikale, erfenis- en gemeenskapsprojekte deurlopend aangebied word. Dit bied ruimte vir omgang met beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns vir die mense van Wellington en omstreke.

www.breytenbachsentrum.co.za of info@breytenbachsentrum.co.za