Pitte om op ’n graf te plant, September 2020
(in die verbygaan gedagtig aan Claude en Erik bo, Joorsie en Jan benede)
’n Man, hy was nie meer so jonk en sy oë nie te waffers nie, het in die leegheid van ’n gedagtegang per ongeluk in die spieël gekyk en sy pa daar gesien. ‘‘Pa!’’ het die man opgewonde geroep – ‘‘Pa! Is dit regtig Pa? My magtag oubaas wa’ was Pa dan al die jare toe ek vir Pa gesoek het?’’ Die man wou byna huil van bewoë opgewondenheid daar was so baie om te vertel en tyd om in te haal en vrae om te vra van die soort wat mens nooit vir jou pa durf vra nie. ‘‘Ek bedoel ween van bewoëntheid Pa. Pa wéét mos mens probeer al hoe meer rym noudat die taal in die slym en die slyk verdwyn.’’ Maar sy pa lyk nie te gesond nie en ook nie juis tevrede nie. Wat kan ek doen wat vir hom nog plesier sal verskaf in hierdie dae van inhokking en kroonpes verontmensliking nou die hand van die mens gelig en gerig is teen die medemens se hand vir ’n haaivaaifwuif en oumatjies se lyke soos dié van eendvoëls in die damme dryf? Ek weet nie waar jy ingelê is nie Oubaas het die man by homself gedink. Waar jy vertoef nie. Maar ek gaan jou nie van die land se verstronting vertel nie dit sal jou te droewig stem en buitendien het ek nie meer ’n land om jou van te belieg nie dit is onder ons aller voete besteel en vertrap en ter stawing geel beskyt deur Sukkelbos se babbelboenke en bobbejoiners. Ter stawing staan daar ter wille van Beskawing waarvan ons al hoe minder verstaan. Nou hoe dan? En wat dan? Toe sê die man vir homself maar dit sal tog weer lente word op dees aarde en daar sal weer waterblommetjies wees in die Boland soos die verbleikte snoetlappies van oumatjies in die damme. Ek wéét wat ek gaan doen het die man besluit uit gewoonte het hy vir homself ek gesê ‘n stem moet mos ’n naam hê al weet hy lankal nie meer van wie of wat hy praat nie: ek gaan ’n pampoen koop vir my pa die sestiende September dit sal hom dalk laat onthou van hoe hy jonk was en hoe Ounooi toe nog gelewe het om ’n kind se skreeu in die wêreld te stoot en ek sal dit afskil die pampoen nie die skreeu nie versigtig om nie die oranjekleurlingrige en ferm vleis te kneus nie en ek sal die stronk en lelle weggooi en die pitte mooi netjies in ’n koevert bêre vir die buiteland om die vandaan nie te vergeet nie en die pampoen opkap in stukkies en ’n bredie daarvan maak met vars en vlesige waterblommetjies. Bredie rym tog met die familienaam en dit roep Ounooi se kombuis op. Dit is alles vir die sestiende September wanneer dit weer lente is en Oubaas weer sal lag en sê my magtag kyk hoe mooi is die lewe soos ’n eerste dag. Maar die man het darem ook met die jare saam geleer dis nie genoeg om ’n pampoen te wil skryf vir kos op die tafel nie en selfs ’n kakkerlak kan nie daarvan oorlewe nie volk kom om van die honger die water wat nie weggelek het uit die damme nie is vergiftig die smoelluiers het die afvoerpype verstop selfs die wyn in die kelders is nou nog net lippereiniger. Hoe dan nou gemaak? Ek wéét! Ek gaan my lewe saamvat en dit met ’n lint vasbind en vir my pa bring die sestiende September dis maar net ’n ou pampoen dit maak nie saak hy onthou nie die datum nie sodat hy iets sal hê om te ontbind en verteer vir die ewigheid. Dit kan tog nie so moeilik wees nie daar is glo lewe van die een of ander aard in die wolke op Venus en dis fundamenteel deel van die gorillas se genetiese saamstelling dat hulle onophoudelik wind moet laat dis tog die siklus van gewaarsyn? Dit sal weer lente word. Ons het nie ’n keuse nie. Maar toe die man met sy bondeltjie lewe toegewikkel in die bloederige lap van hergeboorte waarop hy nogal onsterflike onthousels geskryf het weer by die spieël kom om te Mouna Liesa kyk wie’s hiesa was daar niks. Miskien het Pa my nie herken nie? Maar Pa weet mos dis ek. Ek sal die bakkiesbedekking afhaal kan hoeka al nie meer asemhaal nie wat gaan dit saak maak of die dood my beswanger as ek nie nou kan lag nie gaan ek huil want ek wou nog sê eintlik gaan dit goed Pa die staat en die party is mos weer soos van toeka één kriminele sameswering en die kaders weet nie meer hoe hulle dit het met die verduistering van al wat leef en beef nie maar van verrotte uile in die kuile en van buile sal daar wel om ons almal te red ’n builepes kom. Sommige whiteys meesal Afferkaners skep nog steeds asof hulle nie vanslewe die emmer leeggemaak het om daarin te pis nie. Pa en Pa se kleingoed sal nie hier en daar jou mielieblaar jou vaalhoed se baas wees om tong te klik en te sê ek sê mos ek het julle mos gesê ek wou nog sê nie. En nou is daar niks. Net die beweging van stilte. Die afstammelinge van mens wat Pa geken het swerf nou die wêreld vol en droom van ’n opregte natuurvresende boerpampoen so op sy lekkerste gestowe met kaneel en ter wille van die heerlikheid lig-lig met bruinsuiker geseën. ‘‘Kan ek Pa dan nie uit die skemering van geheue lok nie? Is dit ék wat hier was? Moenie weggaan nie Pa. Jou klong is nou-nou weer hier soos ’n kinderkoor in die skemer en ons sal sing soos van ouds Pa. Pa? Die kat kom terug ek kan nie langer wag ek sal met lang bene oor die Wellingtonse berge kom. Pa! Liewe Oubaas’’ – het die man gesnik – ‘‘moenie my hier so alleen los nie… En wat moet ek nou maak met hierdie pampoen vir die onthou van die sestiende September?’’ Breyten Bian Tong.