Sensuur: The President’s Keepers deur Jacques Pauw

Breyten Breytenbach

Vergun my asseblief om my ontsteltenis so sterk moontlik uit te spreek oor die druk geplaas op NB Uitgewers dat Jacques Pauw se boek doodgesmoor moet word – uitgeoefen deur prokureurs wat optree namens die Suid-Afrikaanse veiligheidsdienste (to refer to SA Intelligence Agencies would be an insult to the generally accepted definition of “intelligence” and its uses). En my weersin in die gevaar vir almal wat weer kop uitsteek hiermee op skrif te stel in Afrikaans, tog nog ’n taal van inheemse verset ten spyte van Stellenbosch Universiteit se intelligente Bestuurspan en ander meelopers se onverpoosde en wederregtelike pogings om dié lewende en skeppende produk en voorbeeld van omvorming en daarom ook die werktuig vir die saam-mekaar-andersmaak van verstarde verhoudings gebaseer op ongelykhede, vooroordele en vrese,  te delegitimeer en onteer. Ons moet aanhou kan veg vir die beskerming van menswaardigheid, menseregte en bedreigde burgerregte in al die vergestaltings van Afrikaans tot ons beskikking. Te meer so omdat die huidige skaduhonde getrou trap in die spore van die Gryskak van weleer wat hulle mag straffeloos misbruik het (ook) in die naam van ’n ideologies-ingeprente en verwronge interpretasie van ’n kulturele ontstaansgeskiedenis geoormerk met die syn-bewusmakende kombuistaal.

Afrikaans was nog nooit nét die witterige minderheidsmonopoliekapitaal wat ’n moedswillig verdraaide persepsie daarvan nou wil uitmaak nie. Die voorregte-behepte heersers het wel Afrikaans besoedel en probeer ideologiseer tot die verskraling van slegs die baas se Europees-ontleende en eiegeregtige taal te wees, verskans en vervat in ’n repressiewe beleid wellustig toegepas en uitgevoer deur oa die afloerders, afpersers en omkopers van tóé gemandateer deur die “veiligheid van die staat”. Ons wat Afrikaans grootgeword het was veronderstel om almal eners te dink, anderpad te kyk, nié te dink nie, en kerk toe te gaan. Dis mos in die bloed, sou die geloofwaardige professor Jansen later beweer.

In die bloed van plaasboere wat uitgewis word in wat nou al hoe meer lyk na ’n stelselmatige volksmoord of kaalslagting gepleeg deur honger en geïndoktrineerde mense wat nog nie wil glo dat Bevryding hulle verraai het, dat die gefaalde bevrydingsbeweging nooit sal kan (of wil) voldoen aan die wettige verwagtinge en behoeftes en belange van die land se bevolking nie? Dit kan tog nie wees dat daar van die magsmonopoliseerders en korrupte staatskapers verwag moet word dat hulle ooit genoeg gesteel het om te kan deel met die armes nie? Wie se bloed moet dan nou vergiet word om genade en versoening af te bid vir daardie verraad?

Die Stasi-opgeleide “spoke” het goed geleer by hulle voorgangers, die Boere (verskoon my bandietidiolek). Die straffeloosheid van sluipers is ingebed in die patroon van metodes en reaksies wat nog altyd en oral berus op die patologiese noodsaak om die veragte volk se strewe na demokratiserende prosesse te wil infiltreer, beheer en manipuleer. As gepatenteerde paranote het hulle nog altyd en oral kon struikel oor ’n ondermynende terroris (ten minste potensieel) onder elke struik – swart, bruin, kommunis, liberalis, witterige kapitalis, andersdenkende of aktivis-wat-dink-dat-hy-slimmer-as-“ons”-is, afvallige radikalis, grondwetverslaafde juris, die naïewe joernalis wat glo dis sy patriotiese taak om die misbruike van ’n arbitrêre kaste patronaatafhanklikes oop te vlek … ’n Totalitêre één-ortodoksie nasiestaat is nie vir sissies nie. Die gemarginaliseerde Afrikaner is ook aan die beurt.

Watter nasiestaat? Maar nou is ons weer daar waar dieselfde neiging om dit wat nie strook met die gefaalde “bevrydingsbeweging” se verskansde belange en buit soos “beskerm” deur ontplooide agente … gesensureer moet word. Tensy ons betyds kan help keer dat dit weer gebeur. Wat my betref is die hoër beginsel hier op die spel en nou in gevaar, nl die reg op die vryheid van denke en spraak en ander vorme van uiting as die transparante platform vir die ononderhandelbare waardes en vereistes wat ’n beveiligde omgewing vir die saambestaan van volke en kulture en tale as die teksture van diversiteit kan bevorder. Dié transformasie kan slegs gewaarborg word binne die aanvaarde en grondwetlike raamwerk van ’n dialektiese interaksie tussen bevryde burgers, met wedersydse aanvaarding en respek en die aktiewe bestryding van alle ‘tradisies’ van diskriminasie of rassisme of geskiedenisonteiening. Enige vorm van sensuur, die onderdrukking van informasie en opinies wat die belange van magsmisbruikers in gevaar mag bring, vernietig die nodige vertroue wat ons moet bou om iets te probeer red – vir almal – van die droom dat ons in regverdigheid kan saambestaan en ontwikkel en verander.

Die verkenner en versitter van grense is ’n moeilike omvormingsagent as geleier van andersmaak. Maar die Afrikaanstalige móét betrokke kan bly, al is dit ook in verset teen die onaanvaarbare binne eie gelede, as ’n Afrikaner-Afrikaan.

Jacques Pauw is en was nog steeds ’n professionele en onverskrokke joernalis. Ons mag nie toesien hoe die evaluering van sy navorsing en verslaggewing vervlak word (geVlakplaas?) tot die siniese interpretasie daarvan implisiet in die base se poging om hom monddood te maak. Indien die Regering sou dink hy verklap die metodes waarop staatsveiligheid sou berus, of indien daar beweer word die straatspresident is belaster deur die bewysbare waarhede aangaande sy skelmstreke, beskik die gereg tog sekerlik oor voldoende alternatiewe om binne die wet te reageer. Sensuur of ander intimiderende aksies om die waarheid omtrent die straffeloses se etiese verrotting te probeer fnuik, of die bekendmaking daarvan te verbied, gaan ’n klimaat van gevaarlike wantroue net vererger.

Ek salueer en waardeer NB Uitgewers se weiering om die huurprokureurs van die staat se diktaat en implisiete dreigemente te aanvaar en gehoor daaraan te gee. Hulle vasstaan nou (miskien te laat) mag ook gesien en beskryf word as ’n verdediging van hulle skrywers se reg op die vryheid van denke, ondersoek, analise, legitieme gevolgtrekkings en die vryheid om te mag kommunikeer sonder om gemuilband te word. Ek hoop die skrywersorganisasies en gemeenskappe en veral die internasionale uitgewers neem kennis van die verslegtende omstandighede in SA, en die kommerwekkende moontlikheid dat vryhede van die pers en uitgewerye aangetas en beperk mag word.

Dit sal goed wees indien ons ’n verantwoordelike en gesamentlike beswaarmaak kan formuleer. Ek is bereid om my by so ’n protesskrif of manifes te skaar.

Die uwe

Breyten Breytenbach

Onderstaande het ek aan ’n aantal vriende, uitgewers, mede-skrywers, invloedryke persepsieskeppers internasionaal gestuur. 

It will be good if note could be taken internationally of the threat to freedom of speech and publication, posed by the South African Security Agency in their bullying efforts to censor Jacques Pauw’s exposure (in his book The President’s Keepers) of the rot spreading – from the presidency down through the failed Liberation Movement – thus bringing to the brink of implosion the state captured by patrons, padrones and blackmailed deployed cadres – a preventable scenario with tragic consequences to all South Africans whose dignity is being trashed, whose dreams of responsible citizenship have been betrayed.

Unchecked criminality and populist mayhem can no longer be contained. Significant sectors of the South African nations (I insist upon the mutually enriching cultural textures of diversity and responsible citizenship implied in the plural) feel concerned enough to try and resist the sickening resurgence of a totalitarian dispensation all too well remembered from the time when securocrats defined and controlled the defunct rogue regime: civil society groupings, the courts, some trade unions, elements of the private sector, writers and now also publishers, churches, assemblies of betrayed militants, political parties in opposition, and even from within the administrative structures of the governing alliance – together with and inspired by the example of the widely respected Elders of the liberation struggle.

A corrupt and immoral caste of thieving deployed cadres, blackmailed by the same state-capturers who fatten them on the poisoned sweetmeats of patronage, now attempt to re-establish an arbitrary reign of unaccountability, impunity and rampant greed along the lines taught by their previous shadowmasters. The present-day protagonists – some among them shaped by STASI training – learned and interiorised the repressive methods which defined the racist minority regime. Indeed, it would seem that some of these spooks are also transfuges from the totalitarian structures that so many South Africans have fought so hard and for so long to have scrapped. Now again, as then, the justification invoked to impose with impunity their exactions and lawlessness and to mask their fumbling recourse to gangster ways, will be the mandate to, purportedly, protect “national security” at their own discretion.

No measure of intimidation will be spared in the process, already initiated, of trying to force the publishers (Tafelberg, an imprint of NB Publishers) to ban Pauw’s unmasking of the scavengers manipulating to make the disaster acceptable. Jacques Pauw is a seasoned journalist of integrity and professional repute. It will be good and appreciated if an international awareness of the danger implicit in allowing the rebirth of an oppressive and racist ideology that we’d thought erased by our strive to be free to protect our dignity and aspirations, can help us resist and draw a sanitary cordon around the purveyors of a failed and betrayed revolution.

Oorspronklike artikel gepubliseer in Litnet op 2017-11-07

Breytenbachsentrum litnet