Woordsketsers in die oog
Profielfoto’s gaan oor die vasvang van ‘n oomblik, en om daarby ook iets van ‘n mens se essensie te probeer uitbeeld. So gesels die Wellingtonse fotograaf Willem Mulder, wie se foto-uitstalling “Woordsketsers” by die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington te sien sal wees.
Onder die bekendes wat hy in die 15 portret- en geleentheidsfoto’s in die uitstalling vasgevang het is Antjie Krog, Anton Goossen, Ian Robberts, Gert Vlok Nel en Koos Kombuis.
Oor die naam van sy uitstalling sê hy: “Ons word groot met woorde. Dit verwoord ons eerste liefde, en gee sin aan wat ons vir mekaar wil oordra. Met hierdie versameling portretstudies wil ek eer bring aan ons lewende woordsketsers wat vir ons wys dat ons nie alleen is nie.”
Mulder woon reeds die afgelope vyf jaar op Wellington. Heelwat van die foto’s in die uitstalling is daarom geneem tydens geleenthede by die Breytenbach Sentrum, of by die ATKV Bordienghuis Teater op die terrein.
Onlangs het hy as fotograaf vir regisseur Niel van Deventer gehelp met die musiekvideo van Anton Goossen se “Bly by my (my lief). Dié is ‘n toonsetting van ‘n Antjie Krog-gedig. Pas het hy ook foto’s geneem vir Wie Ein Fahrrad im Gegenlight (oftewel “Soos n fiets teen die lig”), ‘n Duitse bundel wat gedigte uit drie van digter Charl-Pierre Naude se bundels sal bevat.
Mulder het in Stellenbosch grootgeword, en het sy eerste kamera op 19-jarige ouderdom gekry, in ‘n tyd toe filmkameras nog die norm was. Gou het ‘n beter Pentax gevolg. Oor die jare het hy ‘n gereelde gesig agter die kamera by Bolandse en Kaapse musiekvertonings of teaterproduksies geword, of in woordmakers se huise.
Benewens sy monochroom portretstudies en straattonele is Mulder ook bekend vir sy dramatiese volkleur landskapstonele van veral Wellington en die Tankwa-Karoo.
“Monochroom het nog altyd vir my uitgestaan, vandat ek as 15- of 16-jarige die eerste keer op fotograaf Cloete Breytenbach se werk afgekom het. Later het die monochroom landskappe van Ansel Adams, en die foto’s van Santu Mofkeng en die tydskrif Life gevolg. Swart-en-wit gee net vir my meer karakter en fokus aan ‘n beeld,” vertel hy.
Sy uitstalling sal in die Cloete Gemeenskapsgalery in die Breytenbachsentrum vanaf 11 September te sien wees, as deel van die Tuin van Digters-fees. Die galery is vernoem na die einste Cloete Breytenbach wat Mulder as tiener geïnspireer het.

Fotograaf Willem Mulder in aksie terwyl hy tydens ‘n onlangse musiekkonsert iets van die energie daarvan probeer vasvang.
Foto: Willem van der Merwe

Willem Mulder se foto van digter Daniel Hugo sal deel uitmaak van sy “Woordsketsers”-uitstalling by die 2026 Tuin van Digters-fees op Wellington.
Foto: Willem Mulder
Hambidge word by Tuin van Digters-fees gehuldig
Feestema van “Menswaardig” aangekondig
Digter, skrywer, resensent, essais en akademikus prof. Joan Hambidge word vanjaar by die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington gehuldig. Die fees, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, word van 11 tot 12 September 2026 rondom die tema “Menswaardig” gehou.
“Dis ‘n voorreg om prof. Hambidge se verrykende betrokkenheid op soveel terreine van die Afrikaanse digkuns en letterkunde in die kollig te mag plaas. Daarby word sy 70 jaar oud op 11 September vanjaar, toevallig maar baie gepas op die eerste dag van die Tuin van Digters-fees,” vertel André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum.
As deel van die huldigingsprogram sal daar onder meer toonsettings van Hambidge se gedigte gehoor kan word. Prof Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg sal die huldigingsrede lewer.
Haar oeuvre strek oor by die 40 publikasies, beginnende met die bundel “Hartskrif” waarmee sy in 1985 gedebuteer het. Dit sluit ook vier romans en die eerste internet-roman in Afrikaans (“Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het”, in 2001) in. Sy het onder meer die Eugene Marais-prys vir haar tweede bundel, “Bitterlemoene” (1986) ontvang, en is vroeër vanjaar vir die Hertzogprys benoem vir haar mees onlangse bundel “Asindeton” (2025).
Prof. Hambidge se akademiese loopbaan het in 1980 as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde begin, waarna sy in 1992 by die Universiteit van Kaapstad aangesluit het. Daar het sy onder meer ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aangebied as professor in Afrikaanse taal en letterkunde, en is aangestel as genoot van die Hofmeyr-leerstoel. Sy het in 2021 afgetree.
Die keuse van “Menswaardig” as vanjaar se feestema, saam met die subtema van “100% handgemaak” is doelbewus “pro-mens” te midde van die kunsmatige intelligensie revolusie. So sê Bibi Slippers, wat vanjaar vir die eerste keer vir die Tuin van Digters-program verantwoordelik is.
“Deur gesprekke en ander aanbiedings sal vrae gevra word wat ons denke stimuleer oor wat dit beteken om mens te wees, en hoe digkuns hierdie unieke menslikheid uitdruk en help vorm,” sê sy.
Slippers verduidelik dat daar verskeie betekenisse binne die woord “Menswaardig” opgesluit is, wat met vrug ontgin kan word. “Mens” vier alles rondom menslikheid; “waar” spreek tot die strewe en verbintenis tot waarheid, “waardig” dui op die waarde van die geskrewe woord en hoe dit ons tyd en aandag waardig is.
“En dan natuurlik “dig”, die digkuns, waaroor die hele fees gaan,” voeg sy by. “Die subtema van “Handgemaak” dui op beliggaamdheid, en die feit dat ons as mense liggame het wat dinge sintuiglik ervaar, en ook ons liggame gebruik om kuns te skep.”
Onder die hoogtepunte op die program is die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys. Die prys word beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Vanjaar sal ‘n Engelse digter bekroon word. Benewens die huldigingsprogram aan dr. Hambidge is gesprekke met twee Hertzogpryswenners, Johan Myburg en Tom Dreyer, oor hul jongste bundels reeds bevestig. Daarby sal die Mengelmoesdigters, wat onder leiding van wyle Diana Ferrus ontstaan het, ‘n groepsvoorstelling van gedigte onder die tema “Die stoel langsaan” aanbied rondom temas van herinnering en nalatenskap, behoort en verlies, en die voortbestaan van stemme binne ‘n gemeenskap.
Die volledige program word in Julie vrygestel.
Ter agtergrond:
- Die eerste Tuin van Digters-fees het in 2012 plaasgevind. Die feesdatum val gewoonlik rondom die geboortedatum van die digter Breyten Breytenbach, wie se familie eens die geboue besit het waarbinne die Breytenbach Sentrum ‘n tuiste het.
- Die 2026-program word saamgestel deur Bibi Slippers, wat vroëer vanjaar vir die Hertzogprys genomineer is vir haar bundel Soekenjin.
- Bevestigde ondersteuning vir die Tuin van Digters-fees is reeds ontvang vanaf die Dagbreek Trust (hoofborg), die ATKV en Jonathan Ball Publishing.
- Die volledige program sal teen Julie 2026 bekend gestel word. Kaartjies is te koop deur Quicket: https://qkt.io/JUU6by
- Vir algemene navrae, ook oor verblyfopsies, kontak info@breytenbachsentrum.co.za
Oor die Breytenbachsentrum:
Die Breytenbachsentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre, nie-winsgewende kultuursentrum waar ’n wye reeks literêre, visuele, opvoedkundige, musikale, erfenis- en gemeenskapsprojekte deurlopend aangebied word. Dit bied ruimte vir omgang met beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns vir die mense van Wellington en omstreke.
www.breytenbachsentrum.co.za of info@breytenbachsentrum.co.za