Tuin van Digters vier 15 jaar met ’n program rondom menswaardigheid

Tuin van Digters keer op Vrydag 11 en Saterdag 12 September 2026 terug na die Breytenbach Sentrum in Wellington vir sy 15de fees. Met die tema “menswaardig” bring die fees vanjaar gevestigde en nuwe digters, skrywers, musikante en kunstenaars byeen vir ’n program van gesprekke, voorlesings, musiek, uitstallings en optredes.

Die tema, menswaardig, wil Tuin van Digters as ’n mens-sentriese fees posisioneer in ’n tyd waarin baie van die samelewing se intellektuele en letterlike energie in masjiene gestort word. Volgens feeskurator Bibi Slippers is “menswaardig” ’n woord waarin verskillende betekenisse en moontlikhede saamleef, waaronder menslikheid, plek, waarheid, waardigheid en digkuns.

“Poësie, wat van asem, ervaring en breinvuur gemaak word, is gelyktydig ’n manier van mens-wees en ’n manier om die eienaardighede van menswees op te teken,” sê Slippers. “By die Tuin van Digters glo ons dat digkuns, en die mense wat gedigte met die hand en die hart maak, ons tyd en aandag waardig is.”

Die 2026-program bied gesprekke oor nuwe digbundels en skrywers, huldeblyke aan belangrike figure in die Afrikaanse letterkunde, ruimte vir jong en opkomende digters, asook geleenthede waar poësie met musiek en ander kunsvorme verbind word.

’n Vrydagaand met Joan Hambidge, Lina Spies en nuwe kuns

Die fees begin Vrydagmiddag met Plek van deelname en deelwórd, waarin Curtus van Kerwel en musiekstudente van die Breytenbach Sentrum die vrug van toegewyde musiekopleiding ten toon stel.

Dit word gevolg deur Onthou is die dag wat breek, ’n gesprek oor ’n nuwe bundel wat hulde bring aan die bekende Afrikaanse digter Lina Spies. Bibi Slippers gesels met Alwyn Roux en Neil Cochrane, die samestellers van die bundel, oor herinnering en voortsetting, en oor die menslikheid van Spies soos dit in haar werk verwoord word. Digters wat in die bundel opgeneem is, lees ook hul bydraes voor.

Vrydagaand word twee uitstallings in die Breytenbach Sentrum geopen. Die vlam van vertel, saamgestel deur Anne-Ghrett Erasmus, ondersoek die mens se narratiewe instink en die stories waarmee ons betekenis gee aan ons wêreld. Johan Myburg tree as openingspreker op.

Woordsketsers, ’n foto-uitstalling deur Willem Mulder, bestaan uit portretstudies van lewende Suid-Afrikaanse digters en skrywers.

Een van die fees se hoogtepunte is Amberkamer: Joan Hambidge, wat op Vrydag 11 September plaasvind, op Hambidge se 70ste verjaardag. Hambidge se oeuvre beslaan meer as 40 publikasies. Karen de Wet, samesteller van die versamelbundel Amberkamer, praat oor Hambidge se oeuvre. Laurinda Hofmeyr sing toonsettings van haar werk en Nina Swart lees van haar geliefde gedigte voor.

Die musiekprogram word voortgesit met Gewone woorde, waarin Laurinda Hofmeyr, Kevin Gibson en Schalk Joubert nuwe lewe gee aan die woorde van digters soos NP van Wyk Louw en Antjie Krog. Die aand sluit af met Buurvrou en die gawe gedigte van langsaan, waarin die groep Buurvrou (Beer Adriaanse, Carla Smith, Nienke Geldenhuys en Luka Geldenhuys) bekende, gewilde en vergete gedigte met hul eie folk-liedjies verweef.

Saterdag: van digters se stemme tot nuwe stemme

Saterdagoggend begin in die Digterstuin met Stembande, waarin stemopnames van digters wat ver woon, elders is of reeds oorlede is, deur die tuin weerklink.

Jong digters kry ’n prominente plek in Meer digdink is nodig, aangebied deur Drakenstein Munisipaliteit. Jong skrywers van Weltevrede Hoërskool, Wellington Hoërskool, Bergrivier Sekondêr, Hugenote Hoërskool en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus lees hul eie gedigte voor onder leiding van Lindsey Bruindjies.

Die oggendprogram sluit ook gesprekke in met Anri Botha en Daniel Hugo oor hul jongste bundels, asook Die stoel langsaan, ’n verweefde poëtiese ervaring deur die Mengelmoesdigters, ’n kollektief wat onder leiding van Diana Ferrus by die Breytenbach Sentrum ontstaan het.

In Ek weet dit want gesels Carina van der Walt en Jennifer Pape met Tom Dreyer oor kennis, ervaring en die manier waarop dit in poësie verwoord word. Pieter Hugo en Hannes Visser ontmoet in Die vryval tussen asem, ’n gesprek oor hul jongste bundels en die ruimte tussen die eerste en laaste asem. Johan Myburg gesels met Karen de Wet oor sy bundel Steierwerk, bestaande uit 71 sonnette. Daarin word die temas van verval, groei en verganklikheid ondersoek.

By Open Mic: Toekomswoorde kry opkomende en gevestigde digters die geleentheid om hul eie werk voor te lees. Deelnemers kan tot 4 September by Deon Meiring aansoek doen deur ‘n e-pos te stuur aan deonmeiringvideos@gmail.com.

 Die mens in verhouding tot ander

Saterdagmiddag se program beweeg verder tussen musiek, poësie en gesprek. Mense-mense, met Magé Troskie en Miché van Wyk, verweef liedjies en stories oor mense met bekende mensegedigte.

In Ek’t ons’t, ’n paneelbespreking aangebied deur PEN Afrikaans, gesels Veronique Jephtas, Pieter Odendaal, Bibi Slippers en Shane van der Hoven met Bibi Burger oor die self as bron van ervaring, herinnering en verbeelding, maar ook oor die mens in verhouding met ander.

Die internasionale komponent van die fees word verteenwoordig deur die Nederlandse digter Mustafa Stitou, wat saam met Tom Dreyer en Danie Marais in Hoogtes en hier-wees met Louise Viljoen gesels oor hul werk en die verhouding tussen die verhewe wêreld van die verbeelding en die alledaagse werklikheid.

Later die middag ondersoek Fourie Botha en Shane van der Hoven in Die kuns van kruip die raakpunte tussen hul onderskeie nuwe bundels, Kolam en Kruiper-Crawler.

Ingrid Jonker-prys en 130 jaar van Ons Klyntji

Die jaarlikse Ingrid Jonker-prys is een van die hoogtepunte van die Tuin van Digters. Die prys word beurtelings aan ’n Afrikaanse of Engelse debuutdigbundel toegeken. Vanjaar word die skrywer van ’n Engelse debuutdigbundel bekroon.

Die fees vier ook Ons Klyntji se 130ste verjaardag. Toast Coetzer en Erns Grundling bied ’n program aan rondom die alternatiewe zine se geskiedenis en die bekendstelling van die nuwe 2026-uitgawe.

Saterdagaand word afgesluit met Oopmond + oopkop, ’n woord-en-musiekgeleentheid waarin digters, musikante en ’n beeldende kunstenaar binne ’n kort tyd nuwe werk skep. Twee spanne digters ontvang ’n tema wat deur die gehoor bepaal word en het tien minute om ’n nuwe gedig te skryf. Die gedigte word daarna deur musikante getoonset, terwyl ’n beeldende kunstenaar terselfdertyd ’n nuwe werk skep.

Die deelnemers aan Oopmond is Danie Marais, Toast Coetzer, Anna-Bet Stemmet en Andries de Beer en Churchill Naude, met Hanru Niemand en Deon Meiring as musikante en Henry Cloete as skeidsregter. Ná afloop daarvan word die aand voortgesit met ’n laatnagpartytjie.

Die 2026-program is ontwerp deur die Suid-Afrikaanse kunstenaar, illustreerder en grafiese ontwerper Daniël du Plessis, wat ook bekend is vir sy strokiesprentkuns en illustrasiewerk.

Kaartjies

Tuin van Digters vind by die Breytenbach Sentrum, Burgerstraat 14, Wellington, plaas. Die program word aangebied in die ATKV Akkoordtent, die Woordtent, die Digterstuin, die Breytenbach Galery en ander ruimtes op die terrein.

’n Dagkaartjie sluit alle programitems op die betrokke dag in. ’n Kaartjie vir Vrydag 11 September gee dus toegang tot die volledige Vrydagprogram, terwyl ’n kaartjie vir Saterdag 12 September toegang tot die volledige Saterdagprogram gee. ’n Naweekpas sluit die volledige program op albei dae in.

Kaartjies kos R100 per volwassene vir Vrydag, R250 per volwassene vir Saterdag en R300 per volwassene vir ’n naweekpas. Studenten met ’n geldige studentekaart betaal R100 vir ’n naweekpas. Kinders onder 16 betaal R50 per dag. Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kry gratis toegang.

Kaartjies is beskikbaar via Quicket. Die volledige program is beskikbaar op die Breytenbach Sentrum se webwerf en sosiale media. Die program is onderhewig aan verandering.

Tuin van Digters 2026 11 en 12 September 2026 Breytenbach Sentrum, Wellington

Media- en verdere navrae: André Terblanché Breytenbach Sentrum: Uitvoerende bestuurder 076 147 8300 andre@breytenbachsentrum.co.za

Hambidge word by Tuin van Digters-fees gehuldig

Feestema van “Menswaardig” aangekondig

Digter, skrywer, resensent, essais en akademikus prof. Joan Hambidge word vanjaar by die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington gehuldig. Die fees, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, word van 11 tot 12 September 2026 rondom die tema “Menswaardig” gehou.

“Dis ‘n voorreg om prof. Hambidge se verrykende betrokkenheid op soveel terreine van die Afrikaanse digkuns en letterkunde in die kollig te mag plaas. Daarby word sy 70 jaar oud op 11 September vanjaar, toevallig maar baie gepas op die eerste dag van die Tuin van Digters-fees,” vertel André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum.

As deel van die huldigingsprogram sal daar onder meer toonsettings van Hambidge se gedigte gehoor kan word. Prof Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg sal die huldigingsrede lewer.

Haar oeuvre strek oor by die 40 publikasies, beginnende met die bundel “Hartskrif” waarmee sy in 1985 gedebuteer het. Dit sluit ook vier romans en die eerste internet-roman in Afrikaans (“Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het”, in 2001) in. Sy het onder meer die Eugene Marais-prys vir haar tweede bundel, “Bitterlemoene” (1986) ontvang, en is vroeër vanjaar vir die Hertzogprys benoem vir haar mees onlangse bundel “Asindeton” (2025).

Prof. Hambidge se akademiese loopbaan het in 1980 as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde begin, waarna sy in 1992 by die Universiteit van Kaapstad aangesluit het. Daar het sy onder meer ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aangebied as professor in Afrikaanse taal en letterkunde, en is aangestel as genoot van die Hofmeyr-leerstoel. Sy het in 2021 afgetree.

Die keuse van “Menswaardig” as vanjaar se feestema, saam met die subtema van “100% handgemaak” is doelbewus “pro-mens” te midde van die kunsmatige intelligensie revolusie. So sê Bibi Slippers, wat vanjaar vir die eerste keer vir die Tuin van Digters-program verantwoordelik is.

“Deur gesprekke en ander aanbiedings sal vrae gevra word wat ons denke stimuleer oor wat dit beteken om mens te wees, en hoe digkuns hierdie unieke menslikheid uitdruk en help vorm,” sê sy.

Slippers verduidelik dat daar verskeie betekenisse binne die woord “Menswaardig” opgesluit is, wat met vrug ontgin kan word.  “Mens” vier alles rondom menslikheid; “waar” spreek tot die strewe en verbintenis tot waarheid, “waardig” dui op die waarde van die geskrewe woord en hoe dit ons tyd en aandag waardig is.

“En dan natuurlik “dig”, die digkuns, waaroor die hele fees gaan,” voeg sy by. “Die subtema van “Handgemaak” dui op beliggaamdheid, en die feit dat ons as mense liggame het wat dinge sintuiglik ervaar, en ook ons liggame gebruik om kuns te skep.”

Onder die hoogtepunte op die program is die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys. Die prys word beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Vanjaar sal ‘n Engelse digter bekroon word. Benewens die huldigingsprogram aan dr. Hambidge is gesprekke met twee Hertzogpryswenners, Johan Myburg en Tom Dreyer, oor hul jongste bundels reeds bevestig. Daarby sal die Mengelmoesdigters, wat onder leiding van wyle Diana Ferrus ontstaan het, ‘n groepsvoorstelling van gedigte onder die tema “Die stoel langsaan” aanbied rondom temas van herinnering en nalatenskap, behoort en verlies, en die voortbestaan van stemme binne ‘n gemeenskap.

Die volledige program word in Julie vrygestel.

 Ter agtergrond:

  • Die eerste Tuin van Digters-fees het in 2012 plaasgevind. Die feesdatum val gewoonlik rondom die geboortedatum van die digter Breyten Breytenbach, wie se familie eens die geboue besit het waarbinne die Breytenbach Sentrum ‘n tuiste het.
  • Die 2026-program word saamgestel deur Bibi Slippers, wat vroëer vanjaar vir die Hertzogprys genomineer is vir haar bundel Soekenjin.
  • Bevestigde ondersteuning vir die Tuin van Digters-fees is reeds ontvang vanaf die Dagbreek Trust (hoofborg), die ATKV en Jonathan Ball Publishing.
  • Die volledige program sal teen Julie 2026 bekend gestel word. Kaartjies is te koop deur Quicket: https://qkt.io/JUU6by
  • Vir algemene navrae, ook oor verblyfopsies, kontak info@breytenbachsentrum.co.za

 

Oor die Breytenbachsentrum:

Die Breytenbachsentrum in Burgerstraat 14 in Wellington is ’n multidissiplinêre, nie-winsgewende kultuursentrum waar ’n wye reeks literêre, visuele, opvoedkundige, musikale, erfenis- en gemeenskapsprojekte deurlopend aangebied word. Dit bied ruimte vir omgang met beeldende kunste, musiek, drama en skryfkuns vir die mense van Wellington en omstreke.

www.breytenbachsentrum.co.za of info@breytenbachsentrum.co.za