musiek
Galakonsert – met die Wellingtonse Jeugorkes
(Ondersteun deur die NLC (National Lottery Commission)
In samewerking met Kunstekaap)
Ná die suksesvolle galakonsert in 2015 – toe ’n stampvol dorpsaal opgedaag het vir die Wellington Jeugorkes, plaaslike kore, Minette du Toit-Pearce en Karin Kortjé – sal hierdie spoggeleentheid weer aangebied word. Hou die webwerf dop vir die aankondiging oor die datum en wie vanjaar saam met die Wellington Jeugorkes sal optree.
Wellington Jeugorkes
Die Wellingtonse Jeugorkes, wat bestaan uit nagenoeg vyf-en-dertig opkomende musikante, is vier jaar gelede in die lewe geroep deur die Kunstekaap en die Breytenbach Sentrum, om prominensie te gee aan die Wellingtonse Klopse-groepe se talentvolle jeugdiges. Hierdie jeugdiges kon geen musiek lees nie. Die orkes is voorts geloods saam met die optekening van die Wellingtons Klopse-geskiedenis, wat geskryf is deur Marlene le Roux en Michael le Cordeur. Die tweede been van die projek was om kerkmusikante te betrek van Mbekweni, wat in samewerking met die Breytenbach Sentrum gedoen is.
Die orkes het in ’n relatief kort bestaan al groot musikale hoogtepunte bereik. Nie net het dié dinamiese musikante al by plaaslike feeste soos die US Woord- en die Suidoosterfees opgetree nie, maar ook al hul internasionale buiging gemaak in die Verenigde Koninkryke. Hierdie orkes kom gereeld byeen om te oefen.
Goodnow-klassieke musiekreeks
(Ondersteun deur die Rupert-musiekstigting)
Die klassieke musiekreeks het gereeld in die sjarmante Goodnow-saal op die CPUT-kampus aangebied. Ongelukkig het die grootste gedeelte van die Goodnow-saal in 2016 afgebrand. Die ideaal is om musiekreeks te laat herleef sodra ’n geskikte lokaal weer beskikbaar is.
Talentsoek-kompetisie
(Aangebied deur die Suidoosterfees)
Of jy kan dans, sing, fluit, tokkel of toneel speel – ons wil saam met die Suidoosterfees jou talent sien! Talentvolles sal weer in 2017 by die Bôrdienghuis Teater kom wys waartoe hulle in staat is. Daar is geen ouderdomsbeperking nie en as jy die beoordelaars beïndruk, staan jy die kans om deur te dring tot die finale wat tydens die Suidoosterfees in 2018 aangebied word. Hier sal jy meeding saam met finaliste van ander plekke uit die Wes-Kaap – soos Malmesbury, Khayalitsha, Brackenfell, Athlone, Langa, Delft en Mitchells Plain. Hoe die Breytenbach Sentrum se webblad en Facebook-blad dop vir besonderhede.