ander werksgerigte opleidingsprojekte
Dagsorg
Ondersteun deur die Drakenstein Munisipaliteit (Wellington-wyke 1 & 29) en die Rupert-onderwysstigting
Fasiliteerder: Charmaine Rhoda
In hierdie kursus word werklose vroue tussen die ouderdom van twintig en vyftig opgelei om hul eie dagsorg-diens te kan begin, te kan werk as kinderversorger by ’n voorskoolse sentrum of by ouers aan huis. Van die aspekte wat in die kursus aangeraak word, sluit in:
- hoe om ’n dagsorg te begin;
- hoe om met ouers saam te werk en te kommunikeer;
- die groei en ontwikkeling van die kinders van geboorte tot vyfjarige ouderdom;
- hoe kinders leer, hulle gesondheid, voeding en veiligheid; asook
- die beplanning van die kind se dagprogram;
- waarneming en verslae; en
- die bou en registrasie van ’n dagsorg.
Die studente volg ook ’n noodhulp-kursus, as onderdeel van die projek. Daar is in 2016 meer as 75 vroue betrek by die kursus wat by die Breytenbach Sentrum, die Happy Todlers-sentrum, asook die Butterfly Home in die Paarl aangebied word.
Naaldwerk
Ondersteun deur die Drakenstein Munisipaliteit (Wellington-wyk 29) en die Rupert-onderwysstigting
Fasiliteerder: Marguerite Scheepers
Ons leer vroue uit armkansige buurte hoe om die naaimasjien te kan bemeester en om ’n verskeidenheid naaldwerkprodukte te kan maak. Hierdie praktiese kursus leer nie net die deelnemers om in ’n klerefabriek te kan werk nie, maar om ook kreatiewe produkte te kan skep en verkoop, asook om ’n verskil in hul huishoudings te kan maak. Die naalwerkgroep werk nou saam met die Tekstieldrukprojek se deelnemers om produkte te kan vervaardig.
Rekenaaropleiding
Ondersteun deur die Drakenstein Munisipaliteit (Wellington-wyk 18)
Fasiliteerder: Kosie Opperman
Hierdie kursus is gemik op skoolverlaters wat uit skole en omgewings kom waar hul nie blootgestel is aan rekenaars nie. Ons help die kursusgangers om die volle Microsoft-pakket aan te leer en sodoende hulle CV’s behoorlik aan te vul. Die kursus is verder ook gemik op ouer volwassenes wat die basiese rekenaar-vaardighede wil aanleer. Die opleiding vind plaas in ons rekenaarlokaal, die BreytenEsentrum. Fooie: R500 / module. Ons bied vanjaar, danksy ons borge, opleiding aan ’n groep individue wat nie hierdie fooie kan bekostig nie.