TIENDE TUIN VAN DIGTERS IN OKTOBER 2021 IN WELLINGTON
Die gewilde Tuin van Digters-fees, wat oor die jare gevestig is as die tuiste van die Afrikaanse digkuns in Suid-Afrika (en die wêreld!) het op Vrydag 22 en Saterdag 23 Oktober 2021 die 10de agtereenvolgende jaar by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasgevind. Dit is in samewerking met NB Uitgewers weer moontlik gemaak danksy ‘n ruim bydrae van die Dagbreek Trust.
Liefhebbers van digkuns kon oudergewoonte uitsien na verskeie bekendstellings van nuwe bundels, voorlesings, boekuitstallings, gesprekke en ‘n besondere aanbieding oor vertalings deur PEN Afrikaans, sing van getoonsette gedigte, ‘n pragtige kunstalling en samesyn met digters soos nêrens elders nie. Alfred Schaffer, die Nederlandse digter wat al jare in Suid-Afrika woon en wie se gedigte ook al in Afrikaans vertaal is, is die digter wat vanjaar gehuldig is. ‘n Spesiale program en voorlesings is ook aangebied ter ere van die digter PJ Philander, wat in November sy 100ste verjaardag sou vier. Verder is die Ingrid Jonker-prys vir ‘n Afrikaanse debuutbundel ook weer by Tuin van Digters toegeken – aan Ryan Pedro vir sy bundel Pienk ceramic-hondjies. Turksvy Publikasies het ook die bloemlesing pandemiegedigte Maskers en mure (met 142 bekende en onbekende digters) bekendgestel. Benewens ‘n gesprek met onder andere een van die samestellers, Daniel Hugo, is van die digters se gedigte deur Frazer Barry getoonset. Hy het dit ook gesing. Ons Klyntji, die alternatiewe, veeltalige zine wat gedigte, kortverhale, fotografie en strokiesprente publiseer, is ook weer by Tuin van Digters bekendgestel.